Pitbull glo weke lank in motor aangehou

(Foto: DBV)

ʼn Pitbull wat glo weke lank in ʼn motor aangehou is, is deur die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) gered.

Volgens die DBV was van sy inspekteurs onlangs op pad na ʼn ander klag toe ʼn bekommerde gemeenskapslid hulle voorgekeer en ingelig het oor ʼn pitbull wat in ʼn motor toegesluit is.

Die inspekteurs is dadelik na die betrokke huis en het met hul aankoms op die pitbull afgekom in ʼn motor wat voor die huis geparkeer en met ʼn net bedek was.

Dit blyk dat die hond weke lank in die motor aangehou is aangesien die motor baie vuil binne was weens die hond se ontlasting. Daar was ook geen kos of water vir die hond uitgesit nie.

Die eienaar van die hond het beweer dat hy die hond in die motor aangehou het om te keer dat hy uit die erf kom en mense in die strate jaag. Hy het verder beweer dat hy besig was om ʼn hok vir die hond agter in die erf te bou. Die DBV het egter nie die bewering geglo nie.

“Die eienaar van die hond is aangeraai om die hond aan die DBV oor te teken aangesien hy nie in staat is om na die hond om te sien nie,” het die DBV gesê.

Hy het ʼn waarskuwing gekry en die DBV het hom oor dierewelstand ingelig aangesien die omstandighede waarin hy die hond aangehou het een van die groot oorsake van aggressie en gewelddadige gedrag in honde is.

Die hond is aan die DBV oorgegee.

“Dit is ʼn groot verantwoordelikheid om ʼn hond te besit en honde kan nie net om veiligheidsredes aangehou word nie. Om ʼn hond in ʼn hok of vasgeketting te hou, is wreed. Diere moet ook 24 uur per dag toegang tot skoon en vars water hê, daagliks genoeg kos kry en behoorlik beskut word teen reën, wind en direkte sonlig,” het die DBV gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.