Plaasaanval-debat: Politici se uitsprake gekap

Mosiuoa Lekota, leier van Cope (Foto: GCIS)

Mosiuoa Lekota, leier van Cope (Foto: GCIS)

AfriForum het ANC-lede se gedrag tydens Dinsdag se parlementêre debat oor plaasmoorde sterk veroordeel nadat ʼn ANC-LP na bewering tydens die debat “bury them alive” geskree het.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid en Lorraine Claassen, misdaadanalis by AfriForum, het dié sitting bygewoon en beweer Duduzile Manana van die ANC het glo die gewraakte uitlating gemaak.

“Dít is ʼn bewys dat die uitsprake van politieke leiers wel kan lei tot geweld en moorde en dat die kwessie van plaasmoorde die ANC min skeel,” het Cameron gesê. “Sekere lede van die ANC het tydens die debat gesit en gesels en gladnie geluister of aktief deelgeneem nie. Politieke partye, wat nie plaasmoorde as ʼn kwessie wil erken nie, soos die ANC en EFF, het tydens hul spreekbeurte net gehamer op ʼn enkele voorval van ʼn swart werker wat in Letsitele geskiet is.”

Mosiuoa Lekota, leier van die Congress of the People (Cope), het tydens die debat gewaarsku politieke leiers se omstrede uitsprake dra tot ʼn groot mate by tot die probleem. “Wanneer ons goed sê wat mense mislei om mekaar aan te val, is ons deel van die probleem. Ons het mense hier wat sê grond dsal gevat word sonder vergoeding. Ons het ʼn president wat goed sê wat indruis teen die Grondwet en mense mislei om die goed te doen wat hulle doen,” het hy gesê.

“As ons president goed sê wat indruis teen wat in die Grondwet staan, moet ek iets sê. Almal wat ons in die Nasionale Vergadering het daardie verantwoordelikheid. Julius Malema [leier van die EFF] vloek sommige dele van die bevolking en sê hulle moet pasop vir wanneer hy aan bewind kom. Ons kan nie stilbly nie. Ons kan nie toelaat dat dinge gesê word wat daartoe sal lei dat mense mekaar doodmaak nie.”

Lekota se mikrofoon is kort daarna afgeskakel omdat sy tyd verstreke was. Hy het na nog ʼn paar onhoorbare sinne die podium verlaat.

Cameron het Lekota se houding oor die saak verwelkom. “Lekota het dit duidelik gemaak as die huidige stand van sake in Suid-Afrika voortduur, dit heel moontlik op ʼn volksmoord afstuur,” het hy gesê.

DA-LP Zakhele Njabulo Mbhele het tydens sy spreekbeurt die rassestereotipering, wat deur sommige LP’s aangevoer is, veroordeel en gesê dit is hierdie “verdelende rasseretoriek” wat verdeeldheid onder verskillende rassegroepe aanhits. Mbhele het verder gesê ʼn tekort aan goeie leierskap in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) dra by tot die SAPD se mislukking om plaasaanvalle te bestry.

“Tydens ons onlangse besoek aan Belfast na nog ʼn plaasaanval, het ons gehoor hoe die SAPD hopeloos beperk is om misdaad te hanteer. In landelike gebiede moet hulle meestal op grondpaaie ry en soms waar daar geen paaie is nie. Die polisie se voertuie is meestal nie geskik om hierdie terrein te hanteer nie. ʼn Tekort aan voertuie en polisiebeamptes is ook ʼn probleem,” het hy gesê.

Hy het gesê polisiestasies moet groter vryheid gegee word om hulpbronne aan te koop wat gepas is vir hul spesifieke behoeftes en die nodige toerusting en hulpbronne plaaslik aankoop om administratiewe gesloer te vermy.

Minister Nathi Nhleko by 'n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Minister Nathi Nhleko by ‘n vorige geleentheid. Foto: Werner Beukes/SAPA

Nathi Nhleko, minister van polisie, wat laaste aan die woord was, het LP’s verseker die ANC beywer hom daarvoor om alle Suid-Afrikaners, insluitend landelike gemeenskappe, te beveilig. Hy het gesê die weerloosheid van boere en aanvalle op plase moet in die groter konteks van misdaad beskou word, maar die indruk moet nie geskep word dat hierdie aanvalle polities gemotiveerd is nie.

Hy het uit die polisie se misdaadstatistiek aangehaal om aan te dui dat plaasaanvalle en plaasmoorde oor die afgelope paar jare gedaal het. “Enige moord is een moord te veel en daarom is hierdie statistiek geensins iets om te vier nie. Ons is trots op ons strategieë wat daarin geslaag het om misdaad te verminder. Die SAPD se landelike veiligheidstrategie begin vrugte afwerp.”

Nhleko het ook politici se uitsprake, dat mense grond onwettig moet beset, veroordeel en gesê dit lei tot verdeeldheid onder Suid-Afrikaners. “Daar moet gestreef word na menslike waardigheid en gelyke regte en voordele van burgerskap vir almal. Dit help nie om ʼn enkele gedeelte van die landelike gemeenskap uit te sonder wanneer die hele gemeenskap uitdagings in die gesig staar nie,” het hy gesê.

“Ons liefde vir boere moet nie beperk wees nie. Ons moet streef na ʼn universele liefde vir die ganse mensdom, ongeag ras, geslag of sosiale status. Hoe gouer ons die sosiaal-benadeelde omstandighede van die armes oorkom, hoe gouer sal ons die stryd teen misdaad wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

51 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

Die ANC of EFF het my nie lewe gegee nie. Hulle gaan my ook nie laat smeek om dit te behou nie. Ek is tot alles in staat deur God wat my krag gee. Nie die ANC nie. Nie die EFF nie. Op my knieë sal ek gaan vir een persoon en Hom alleen. God bepaal my toekoms. Die government bepaal wel die omstandighede van ons boerevolk maar ons boere het elke keer oorwin in die slegste omstandighede. Ons het oorwinning behaal as die minderheid. Want deur alles het ons God geken. Ons het nog nooit terug gestaan nie. Bogger… Lees meer »

Eriko

Het julle regtig enige iets anders verwag?

Die parlament is een groot sirkus. Met die hoof narre wat sit agter die plaas aanvalle en moorde op ons mense. Hoe op dees aarde kan mens enige ander tipe reaksie verwag as dit wat jul gekry het?!

J. Bath

Ek het debat gekyk *Dankie Dr Groenewald vir die opper van die saak. *Meneer Lakota van Cope is ‘n WARE LEIER en sy mikrofoon moes nie afgesit geword het nie. Ek salueer u vir toespraak van getegtigheid! *Meneer MA Mncwango van IFP is ‘n WARE LEIER en hy het soveel kompassie betoon om in Afrikaans aftesluit. Respek vir U Meneer. *DA se Meneer Mbhele is Tops en Baie Profesioneel en het praktiese oplossings gelys wat goeie punte is. *ADCP Meneer Swart het perfekte waarheid gepraat en ek dank die Here vir sy en die ADCP se stem in Parliment. ANC… Lees meer »

"oop lippe"

Hier kom ‘n ding!!!!!!!! Suid Afrika, volksmoord is jou voorland. Toe ek by die brandweer gewerk het, het ek geleer van stellings soos “laat die vuur hom self uitwoed”. Dit wil voorkom SA MOET homself uit woed.
Dis maklik om af te breek maar nie maklik om op te bou nie. Da gaan oz land van ‘melk en heuning’. “VOLKSMOORD!!!!!!

waarheid

Al wat ek kan se dis n teleur stelling om dit te hoor ek se net mense die Here slaap nie hy weet wat om te doen glo en vertrou glo net hier kom n harde tyd wat voor le vir ons die is die begin van baie dinge ons moet net bid en glo die vader sal ons gebede verhoor