Plaaslike bloubessiebedryf blom

Argieffoto (Foto: hellotimothytyndale/Pixabay)

Die produksie van die plaaslike bloubessiebedryf het in 2019/2020 tot 18 000 ton verhoog, van 11 700 ton in die vorige seisoen, het ʼn bedryfsvereniging Woensdag gesê.

Die Suid-Afrikaanse bessieprodusentevereniging (Sabpa) het gesê die 53%-verhoging is ʼn teken van die groeiende belegging in en aanvraag na die land se bessies.

“Ons vooruitskattings vir die jaar dui daarop dat die bloubessiebedryf tot 25 000 ton vir die 2020/2021-seisoen kan produseer,” het Justin Mudge, voorsitter van Sabpa, gesê. “Dit is ʼn goeie toename as mens die impak van die Covid-19-pandemie in ag neem.”

Hy het gesê die toename in die bedryf is veral goeie nuus vir Limpopo en Mpumalanga, waar uitsette teen 2025 na verwagting onderskeidelik met 136% en 102% sal toeneem.

Die vereniging het vroeër vandeesmaand ʼn nuwe rekord van 12 282 ton bloubessieuitvoere in 2019/20 aangekondig. Saam met die jongste getalle dui dit daarop dat uitvoere ongeveer 68% van die bedryf se uitsette verteenwoordig.

Mudge het Woensdag gesê die landbou- en kosvervaardigingsbedryf word as noodsaaklike dienste beskou tydens die landswye afsonderingsperiode om die Covid-19-pandemie te beheer. Boere kon dus tydens die saaiseisoen by hul skedules bly.

“Ons is vol verwagting dat vanjaar net so produktief sal wees as vorige jare en dat ons steeds die groei sal sien wat die bedryf toegelaat het om werksgeleenthede aan te bied,” het hy bygevoeg.

Die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging het vroeër vandeesmaand gesê die aanvraag na suurlemoene uit oorsese markte het tot dusver vanjaar verdubbel in vergelyking met dieselfde periode in 2019, met 4,5 miljoen kartonne wat tot dusver verskeep is. Die organisasie het egter gewaarsku dat die Covid-19-pandemie kontinuïteit kan bedreig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

netekalleen ·

Wat help.dit as die bessies in elkgeval nie uitgevoer.gaan word nie. Dis nie asof almal lief.is.om die goed te eet nie

ooknetmens ·

Dit is baie gewild. En uitvoere is nie gestaak nie. Met die swak Rand kan die boere meer geld maak, en dalk uit die droogte skuld kom

summie ·

As daar dan so baie Bessies is, hoekom is dit dan nog steeds so duur ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.