Planne gemaak vir nog entstowwe – kabinet

(Foto: Justin Tallis/AFP)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid en Tito Mboweni, minister van finansies, het Woensdag tydens ʼn kabinetsvergadering gesê die regering is besig met onderhandelings met verskillende farmaseutiese maatskappye om nog Covid-19-entstowwe vir die land te bekom. Die kabinet het ook tydens die vergadering aangekondig dat die nasionale ramptoestand tot 15 April verleng is.

Volgens ʼn verklaring wat deur die presidensie uitgereik is, het die kabinet sommige van die problematiese voorwaardes in die entstofkontrakte – wat nie met die bepalings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur strook nie – ernstig oorweeg. Die kabinet het ook erken dat die Nasionale Tesourie reeds toestemming gegee het dat die kontrakte in terme van die voorwaardes kan afwyk, in die belang van die lewens van Suid-Afrikaners.

Die afwykings sluit bepalings oor voorafbetaling in om te verseker dat Suid-Afrikaners so spoedig moontlik toegang tot die entstowwe kry. Die kabinet ondersteun die pogings van die tesourie en die gesondheidsdepartement om voort te gaan met die onderhandelinge en om vinnige toegang tot entstowwe vir almal te verseker.

Mkhize het ook gesê die regering bly daartoe verbind om minstens 65% van die bevolking, oftewel 40 miljoen mense, voor die einde van die jaar in te ent om sodoende kudde-immuniteit te bereik. Inentings het verlede maand met die Johnson & Johnson (J&J)-entstof  in Suid-Afrika begin.

“Ons sal hierdie doelwit kan bereik indien ons die entstowwe volgens die ooreengekome kwartaallikse skedule aanskaf,” het Mkhize gesê. “Ons is wel bedag daarop dat die vervaardiging van entstowwe deur die betrokke ondernemings vertraag kan word.”

Suid-Afrika het tot dusver 11 miljoen dosisse van die J&J-entstof en nog 20 miljoen dosisse van ʼn entstof wat deur Pfizer ontwikkel is, bekom. Nog 12 miljoen dosisse word vanaf die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covax-program, asook ʼn ongespesifiseerde aantal dosisse vanaf die Afrika-Unie verwag.

Maroela Media het vroeër berig die regering verwag dat nog 500 000 dosisse van die J&J-entstof teen einde Maart in Suid-Afrika sal aankom. Hoewel die bestelling nog bevestig moet word, word 600 000 dosisse van Pfizer se entstof ook voor die einde van die maand verwag. Hierdie entstowwe sal aan gesondheidswerkers toegedien word.

Sowat drie miljoen dosisse van J&J-entstof sal na verwagting tussen April en Junie in Suid-Afrika aankom, met tussen vyf en sewe miljoen dosisse van Pfizer se entstof wat in dieselfde tydperk verwag word.

Nog sowat vier miljoen dosisse van Johnson & Johnson se entstof en 7,6 miljoen van Pfizer se entstof sal na verwagting tussen Julie en September in die land aankom.

In die laaste kwartaal – tussen Oktober en Desember – verwag die regering nog vier miljoen dosisse van Johnson & Johnson en 11 miljoen dosisse van Pfizer.

Mkhize het ook gesê dat die regering in die finale stadium is om ooreenkomste te sluit om die res van die entstowwe te bekom wat nodig is om die entstofplan volledig uit te rol.

Die kabinet het tydens die vergadering aangekondig dat die nasionale ramptoestand tot 15 April verleng gaan word en moedig ook die publiek weereens aan om steeds aan al die nodige Covid-19-gesondheidsmaatreëls te voldoen om die verspreiding van die virus te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Baardman ·

Noodtoestand is lagwekkend. Herstelkoers byna 95%. Dis n geval van magsmisbruik deur die regering. Soos ek al vroeer gesê het, daar gaan meer mense dood aan ander siektes en ellende as aan covid.

Fedup ·

Did i miss the small price tag for all these vaccines, today?
I swear this circus is a few sandwiches short of a picnic.

JM ·

Genade! Hoeveel gesondheidswerkers is daar in die land? Wanneer kom die res van die bevolking aan die beurt?

Casper ·

Baardman jy het nie jou kommentaar op feite gebaseer nie en daarom kan ek nie met jou saamstem oor oorsaak van sterftes nie.Ek vertrou nie die entstof vanaf die AU nie.Ons het al ons Astra Zeneka aan Afrika lande verkoop.

Johanncb ·

In ‘n ander koerantberig vanoggend, word genoem dat twintigduisend mense per dag ingeënt moet word. Met sestig miljoen mense in die land, teen 300 dae gemiddeld jaarliks, gaan dit twintig jaar neem om die doel te bereik! Ons sal nog daarby uitkom!!!

Knormoer ·

Ek dink op n goeie dag is 10 000 ingeent. So ja, om by 40 000 000 uit te kom gaan so 11 jaar neem, as daar 365 per jaar gewerk word. Eintlik baie langer as hulle byvoorbeeld
Pfizer entstof begin gebruik, want dan kry jy twee inspuitings. Ek dink die regering raak deurmekaar met al die nulle en kan dan nie so lekker die somme doen nie.

Deon ·

Is die entstowwe van verskillende vervaardigers presies dieselfde ding? Is almal ewe effektief?

richard ·

Ek sien iemand se ons het ons Astra Zeneka aan Afrika lande verkoop ander berig se ons het nog niks verkoop nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.