‘Polisie ernstig oor bedrog, korrupsie in eie geledere’

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Die bestuur van die Gautengse polisie het Woensdag gesê korrupte polisiebeamptes word deurgaans in hegtenis geneem en afgedank nadat bewerings oor beamptes se betrokkenheid by dwelmhandel in die middestad van Pretoria vandeesweek aan die lig gekom het.

Karen Meyer, burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid en nooddienste, het Maandag gesê sy het berigte en beeldmateriaal ontvang wat wys dat polisiebeamptes betrokke is by dwelmhandel.

Sy het ook uitgevaar teen die polisie nadat beamptes glo verhoed het dat personeel van die Tshwane-nooddienste ʼn brand blus nadat ʼn gebou in die middestad aan die brand gesteek is. Volgens Meyer woon daar glo dwelmsmouse in die gebou.

Volgens brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, kan bewerings oor beamptes se betrokkenheid by dwelmverwante en ander korrupte aktiwiteite nie ontken word aan die hand van die aantal beamptes wat sedert die begin van die jaar in hegtenis geneem is of uit die diens ontslaan is weens korrupsie nie.

“Die inhegtenisneming en ontslag van polisiebeamptes bevestig net dat die bestuur ernstig is daaroor om bedrog en korrupsie in sy geledere te bekamp,” het Peters gister gesê.

Peters het gesê dié streng optrede teenoor beamptes strook met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se nasionale teenkorrupsiestrategie wat in Junie 2018 van stapel gestuur is.

“Die SAPD het ʼn geenverdraagsaamheidsbenadering teenoor lede van die diens se onetiese en korrupte gedrag. Niemand is bó die wet verhewe nie,” het Peters volgehou.

Volgens Peters het lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiehoof, ná sy aanstelling in Februarie vanjaar ses prioriteite geïdentifiseer wat dringend aandag moes geniet om die hoë vlakke van misdaad te verlaag.

“Drie van hierdie prioriteite fokus spesifiek op die hantering van georganiseerde misdaad, die hantering van die plaag van dwelms en mensehandel en die hantering van korrupsie in die diens,” het Peters gesê.

Hy het bygevoeg dat die polisie sedert Januarie vanjaar 842 verdagtes in Pretoria in hegtenis geneem het vir die besit en of handel van dwelms terwyl 391 tot op hede in Sunnyside in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

emily ·

Kwalifikasies ens. word nie nagegaan nie. Dank die goed af en stel mense aan wat nog omgee vir hul medemens en wat die diens wil lewer.

Neels ·

Ons het jare gelede geleer dat beskawing op 3 fondamente gebou word: Sekerheid, Gesondheid en Opleiding. Dit is die 3 belangrikste areas, en behoort dus die hoogsbetaalde en beste posisies in ‘n beskawing te wees. Tog word ons Polisie, Verpleegpersoneel en Onderwysers die swakste betaal. ‘n Ou spreekwoord lui: “Pay peanuts and you get Monkeys”
As ons hierdie mense beter salarisse aanbied kan ons die room verwag, kies en keur met diesulke aanstellings, en sulke aksies om self misdaad te pleeg verhoed.

Jeanetta Taljaard ·

Ek dink jy moet weer na die salarisse gaan kyk. Het familie en vriende in hierdie beroepe en nie een van hulle kry ‘n swak salaris nie, in teendeel dink ek hulle kry uitstekende salarisse in vergelyking met die privaat sektor. Korrupsie en diefstal kan eerder met gierigheid verbind word.

Anel ·

Daar is ook ‘spreekwoord wat sê dat as jy iets doen waarvan jy hou, jy dit nie as werk sien nie. Jy weet wat jou salaris gaan wees vir enige werk wat jy gaan doen. As dit net oor die geld is, moet dit nie doen nie.

jakes ·

Dis lagwekkend dat mense kan dink dat die polisie die wet handhaaf en nie betrokke is by misdaad nie. Word wakker, die polisie wat sedert 1994 die land moet beskerm is n grap. Daar is wel goeie polisie wat hul werk nog ernstig opneem maar hulle is in die minderheid. Indien jy helfte van die polisiemag tronk toe sou stuur sal die misdaadsyfer met ten minste 30% daal.

sweis ·

Ondersoek die moot ook oor die polisie voertuie wat altyd by die pakestaniers winkels staan hulle is nie daar om koek en tee te vat nie.

Mmm... ·

Die “post-1994 polisie” is ‘n “joke” maar wat kommerwekkend is, is dat die wat uit die mag gegooi word, dan “graduate” na volwaardige misdadigers en moordenaars wat uit weerwraak misdaad pleeg net om die opregte polisie en die grap van ‘n regering ‘n punt te bewys…..Net die Here kan ons red!!!!

Tanya ·

Ag nee wat het geword van Zuid Afrika eerlikheid. Of moet ek se Suid Afrika omkoop geld ag noem dit dit is regtig jammer dat die land nou moet val. 99.9

KrokodilBotha ·

Meer koruptes moet tronk toe. Daars in elke stasie in die land van hulle. Praat baie en doen bokkerol.

Andre ·

Die probleem met die polisie is dat die senior personeel nie ‘n voorbeeld stel nie en dat hulle self nie ‘skoon’ is nie.
Dit is so dat indien die leiers in enige organisasie streke aanvang weet meeste van die grondpersoneel daarvan weet en gaan hulle voort met ongerymdhede omdat die seniors dan nie veel daaroor
kan doen nie.

Hanlie ·

Die ergste van alles nog, as jy ‘n klag wil gaan le by die polisie vir enigiets, van motorongelukke en nog meer word jy baie traag behandel en laat jou soos die skuldige voel. Maar intussen kom hulle weg met moord.

James ·

O my genade – kom hulle dit NOU EERS agter?
Hoe agter die klip wil jy nou wees?
Oi!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.