Polisie kap terug oor R1,6 miljard se PBT

(Argieffoto: Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het teruggekap na berigte dat hy onreëlmatig R1,6 miljard aan persoonlike beskermende toerusting (PBT) bestee het.

Volgens brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het die SAPD se verkrygingsafdeling in Maart verlede jaar goedkeuring gekry vir ’n afwyking vir die noodverkryging van PBT. “Dit beteken dat aan behoorlike verkrygingsprosesse en -prosedures voldoen is.

“Aan die begin van die pandemie was die broodnodige PBT skaars en is die beskikbare toerusting teen ’n baie hoër prys as normaalweg verkoop, en moes die afwyking dus toegestaan word.”

Die Daily Maverick het berig die R1,6 miljard is in die bestek van ses maande spandeer en sluit onder meer R11 miljoen in wat aan ’n Dr Love Foundation, glo ’n maatskappy sonder winsbejag, betaal is nadat ’n “mondelikse bestelling” geplaas is. Die maatskappy kon volgens die berig egter nie op die nasionale tesourie se databasis vir kleinsakeontwikkeling opgespoor word nie.

Die SAPD hou egter vol dat die Daily Maverick se artikel is misleidend en onwaar. “Die interne ouditverslag, waarop die artikel gegrond is, het aanvanklik om en by Oktober verlede jaar aan die lig gekom. Die genoemde dokument is ’n ongetekende en ongetoetste verslag met ’n klassifikasiestempel van vertroulik.”

Volgens Naidoo is die polisiebestuur nie bewus van enige bewerings of ondersoeke wat uit die dokument gespruit het nie.

Die Daily Maverick berig egter dat aanbeveel is dat ’n forensiese ondersoek gedoen moes word en dat die verslag op ’n ernstige gebrek aan bestuur gedui het.

Naidoo het gesê die SAPD se PBT-verkrygingsproses kom net soos die van ander staatsdepartemente onder die loep van die sogenaamde “Fusion”-sentrum wat as die koördinerende liggaam opgetree het vir wetstoepassingsagentskappe wat Covid-19-korrupsie moes ondersoek.

“In die verband is gedetailleerde voorleggings oor die verkryging van PBT aan die Fusion-sentrum gedoen. Die SAPD-bestuur het ook verder gegaan en maatskappye wat PBT teen opgeblase pryse verkoop het aan die Mededingingskommissie gerapporteer.”

Die DA het intussen versoek dat die Valke dringend verslag aan die parlement moet doen oor die beweerde onreëlmatige besteding van R1,6 miljard.

Andrew Whitfield, DA-LP en die party se woordvoerder oor polisie, het gesê oorsig is nou belangriker as ooit tevore met die ANC-regering se “gewetenlose plundering” van Covid-19-fondse wat aan die lig kom.

“Dit is skokkend dat die instelling wat die land moet beskerm en korrupte plunderaars moet aankeer, deel uitmaak van ’n massiewe PBT-korrupsieskandaal. Die SAPD is veronderstel om bo verdenking te wees en die voorbeeld te stel vir alle Suid-Afrikaners, maar het toegelaat dat sy geloofwaardigheid aan flarde geskeur word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Persheks Adri ·

Al weer ‘n geliegery en glad nie ‘n voorbeeld vir ons nie inteendeel die teenoorgestelde. Grootste kriminele werk dan daar gggmmmfff

Strandloper ·

Hul moet almal klipe kap veral die main peanut in die pakkie

Persheks Adri ·

Dankie vir die lag Strandloper! Ja hy kan beslis begin op ‘n punt hy sal beter vaar met dit as minister wees gggmmmfff

Fedup ·

Oral agreements always come back to bite you.
I take it the “police service” are out of paper, pens, computers, electricity and maybe toilet paper as well.
I guess any excuse is better than no excuse, once all the family members filled their pockets?

Nie Verbaas ·

Natuurlik sal hulle die wandade verdedig. Weereens, as jy nie weet dat jy nie weet nie, dan is niks verkeerd nie.

Kokerboom ·

Ek wens net die SA President wil wakkerskrik en die SAPD se topstruktuur skoonmaak….van Minister tot hordes oortollige generaals wat duidelik onbevoeg is vir hul werk. Deur stilswye kondoneer CR die totale verrotting in SA Polisiemag. Wil daar nie maar drastiese aksie teen die mafia geneem word? Vertrouensverhouding in SAPD is reeds op ‘n skrikwekkende lae vlak!!!!!

Misky ·

Wonder nogal watse beskermingstoerusting het die “Dr Love Foundation” gelewer. Klink nogal soos iets wat ander tipe beskerming moet bied…… ha ha ha ha

Rian ·

Dit is sowat R8200.00/persoon. Hel maar dis baie maskers vir een ou. Nagenoeg 589 maskers/persoon.

Pietertjie ·

My somme wys dat R1, 6 miljard gedeel deur 200000 SAPS lede en R10 per masker neerkom op 800 maskers per lid. Of 1 masker per lid teen R8000 per masker. Ek wonder watter som is die naaste aan die waarheid.

Keelvol ·

En waar is al die sogenaamde beskermingstoerusting. Want ons op die werk vlak sien niks daarvan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.