Verskeie mense, waarvan sommige glo Nigeriërs, wat glo verbind kan word aan ʼn internasionale kubermisdaadnetwerk in Suid-Afrika en Amerika, is deur die Suid-Afrikaanse polisie in hegtenis geneem.
Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het Woensdag gesê inligting oor die inhegtenisnemings sal Woensdagmiddag tydens ʼn perskonferensie bekend gemaak word.
Die Franse nuusagentskap Agence France-Presse (AFP) het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), in samewerking met wetstoepassers van Amerika, het verskeie inhegtenisnemings gemaak. Die netwerk is glo uit Pretoria bedryf.
Die polisie het in ʼn verklaring gesê dit is ʼn “Wes-Afrika-kriminele netwerk wat uit Suid-Afrika bedryf is, met sterk bande in Amerika”.
Ramaloko het aan AFP gesê daar is ook inhegtenisnemings in Kanada gemaak. Hy het gesê die verdagtes sal Woensdag in die hof verskyn voordat hulle aan Amerika uitgelewer word. Ramaloko het nie gesê hoeveel mense in hegtenis geneem is nie. – SAPA
Mooi, ek hoop tog hierdie miljoene wat n mens WEN in al die kamstige promosies gaan ook verdwyn…
Dankie Valke julle oe is op ons geldtjie waardeur dit baie.