Polisie maak glo gereed vir verdere onluste

Dit lyk of die polisie voorsorgmaatreëls tref om ‘n herhaling van verlede maand se geweld te stuit. (Argieffoto: Phill Magakoe/AFP)

Daar is toenemende kommer oor beweerde hernieude pogings om Suid-Afrika deur gewelddadige optrede lam te lê. Dié keer lyk dit egter of die polisie meer voorbereid op enige beplande opstand sal wees.

Luidens een van die boodskappe wat tans die ronde doen en wat oënskynlik aan polisielede gestuur is, het die polisie glo inligting ontvang oor moontlike aanvalle op onder meer die polisie, die weermag, korrektiewe dienste en private veiligheidsdienste.

Die nasionale polisie het Maroela Media se navraag oor die egtheid van die boodskap na die Wes-Kaapse polisie verwys, van waar die boodskap oënskynlik sy oorsprong het, maar geen terugvoer daaroor is tot dusver ontvang nie.

Volgens die boodskap word polisiebeamptes aangesê om te alle tye hul koeëlvaste baadjies te dra en vuurwapens by stasies behoorlik te beveilig, asook dat hulle glad nie alleen mag werk nie en die maksimum getal beamptes moet ontplooi.

Na verneem word, is 23 Augustus glo die dag waarop sogenaamde opstandelinge beoog om weer chaos in die land te veroorsaak. Grootskaalse geweld en plundering het verlede maand in veral KwaZulu-Natal en later ook Gauteng uitgebreek.

Skade van miljarde rande is aangerig, honderde mense is dood en die weermag is eindelik ontplooi om die situasie in bedwang te help bring. Daar was ook groot kritiek omdat Suid-Afrika se veiligheidsmagte glo onverhoeds deur die onrus betrap is.

Breër opstand glo beplan

Die hernieude beoogde oproer is glo ʼn voortsetting van dié geweld, maar op ʼn meer omvangryke skaal in die res van die land.

Dr. Johan Burger, ʼn polisiekenner en senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê dit is moeilik om die betroubaarheid van die intelligensie te bepaal, veral as die hoofaanhitsers van die geweld volgens die polisie – en die minister van polisie – reeds agter tralies is.

Die feit dat ʼn spesifieke datum aan die oproer gekoppel word, laat verdere vrae oor die egtheid daarvan ontstaan.

Burger sê egter indien aanvaar word dat die polisie se intelligensie in hierdie geval korrek is en ʼn opstand wel beplan word, moet hulle geloof word vir enige gebeurlikheidsplanne wat reeds in werking gestel word.

“Ek is glad nie oortuig van die gehalte van die sogenaamde intelligensie nie. Dit kán, of dit kan nié waar wees nie, maar ek dink die polisie tree reg op om eerder ʼn oorversigtige benadering te volg.”

Hy sê in reaksie op beweerde inligting dat opstandelinge hulself moet bewapen en dat die plek waar hulle dié wapens moet kry by polisielede en -stasies is, is dit goeie nuus dat behoorlike voorsorgmaatreëls getref word.

Nog gebeurlikheidsplanne sluit in ʼn beweerde opdrag dat gewone polisielede byvoorbeeld nie toegang tot die wapenkluise by polisiestasies mag hê nie. Die kwessie was onlangs in die nuus toe ʼn polisiestasie in die Noord-Kaap van talle wapens beroof is nadat die polisiebeampte aan diens die sleutel van die wapenkluis by haar gehad het. Die wapens is intussen teruggevind.

Hy sê hoewel dit dalk die opstandelinge se plan is om die regering oor te neem, glo hy nie hulle is in staat om dit wel te doen nie. “Die regering kan egter nie die kans waag om te wag en te kyk of hulle daartoe in staat is nie.

“Ek is heeltemal oortuig daarvan – in hierdie stadium – dat die sogenaamde aanhitsers nie werklik oor die vermoë beskik om die dreigemente uit te voer nie. Daarom steun ek die optrede van die polisie en die weermag.”

Hy sê dit is dus belangrik dat sekere sleutelpunte – soos die parlement, die Uniegebou en die openbare uitsaaier – behoorlik beveilig word. Die SAUK het verlede week bevestig dat die weermag by sy kantoor in Auckland Park ontplooi is in die lig van die onlangse geweld. SAUK-kantore is nasionale sleutelpunte.

Burger sê die behoorlike beveiliging van sleutelpunte skep boonop ruimte vir die polisie om na die aanhitsers te gaan soek en enige opstand in die kiem te smoor.

‘Revolusionêre potensiaal’

Selfs al beskik die opstandelinge nie self oor die vermoë om ʼn inval of rebellie behoorlik van stapel te stuur nie, bestaan die moontlikheid dat die sogenaamde revolusionêre potensiaal wat moontlik in die land aanwesig is, wel ʼn gevaarlike situasie kan laat ontstaan.

“Revolusionêre potensiaal beteken nie ons is op die punt van ʼn revolusie nie, maar daar is die moontlikheid,” waarsku hy.

Burger verduidelik dat kwessies soos hoë werkloosheidsvlakke, armoede, swak dienslewering en gebrekkige toegang tot byvoorbeeld water en sanitasie ʼn gevoel van vervreemding by baie gemeenskappe skep. “Hulle voel ontneem van hul burgerskap omdat hulle nie deel in die vrugte van bevryding nie. Hulle het nie werk of ʼn inkomste nie en hul munisipaliteite ignoreer hulle.”

Boonop word daar voor elke verkiesing beloftes gemaak wat nie nagekom word nie.

Hy sê dié frustrasie onder mense kan omskakel in aggressie omdat daar nie aan toenemende verwagtings voldoen word nie en die aggressie kan dan tot geweld lei.

“Ek dink dit is waar ons probleem is. Die moontlikheid is daar; al wat jy nodig het, is ʼn vonk by die kruitvat en ek vermoed dit is wat die ouens in KwaZulu-Natal probeer regkry het.”

Of die gerugte dus waar is of nie, is dit wel die regte optrede om die polisie se operasionele vermoëns te verskerp en dié aanhitsers wat nog nie agter tralies is nie, aan te keer, sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Persheks Adri ·

Dit gaan nie net oor die uniforms en sogenaamde weermag nie, maar almal wat wapens het! Die dreigemente is verder as dit ek glo meeste van ons het die boodskap gekry. Sal sien of SAPS reg is en op hoë gereedheidsgrondslag geplaas gaan word pffft! Ons is op ons eie mense die uniforms kan ons nie beskerm nie klaar

Drico ·

As mens kyk na die hoeveelheid aanvalle op polisiestasies uitgevoer word, dan moes hul jare terug al hul vermoëns opgeskerp het!
Die inteligensie en SAPD onderskat die res van die gepeupel as hul dink n opstand is nie heeltemal moontlik nie, KZN was net n oefenlopie. En ja, tensy die opstand baie goed uiteengesit en georganiseerd is, glo ek ook nie dit gaan op genoemde datums begin nie. Dis juis die verrassingselement wat in hul guns tel. Die regering en SAPD kan hul maar gereed maak vir optrede enige tyd! Wees elkeen dus paraat en waaksaam, dinge verander in n oogwink.

Fritz ·

Indien nie die 23ste nie, sal dit wel op n ander dag gebeur. Dis tog logies dat daar weer (en weer) opstande sal wees. Of is daar mense wat dink 1994 se Groot Vrede sal vir ewig hou???

Dawid ·

Baas breine agter tralies…het ek iets gemis. Nerens gelees dat malema agter tralies is nie

Hendrik ·

Daar was mos 12 ge-identifiseer. Wag nog om te hoor wie hulle is.

Tanniepetoors ·

Dr Burger is weereens reg. Eerder voorbereid as weer met die broek om die enkels. Persoonlik dink ek die datum is vroeër. Weet nie wanneer nie, maar gebeur gaan dit.

Casper ·

Hierdie bewerings kan nie ligtelik opgeneem word nie.Hoekom word polisiemanne en vroue vermoor en beroof en word polisiestasies beroof.Is dit nie nie om te bewapen vir die revolusie nie.Nou is my vraag,wie sit agter hierdie planne?dit is mense met militêre kennis en ANC afvalliges wat nie saamstem met die NUK se reaksie op korrupsie nie.Dan is die groot sondebok wat aanleiding gee tot so iets,werkloosheid,dienslewering,onderhoud en herstel van infrastruktuur wat nie gedoen word nie omdat onbevoegde mense aangestel word,neupotisme en baantjies vir boeties beleid,korrupte amptenary by munisipaliteite.Daar sal ferm en streng opgetree moet word om plundering en bloedvergieting te voorkom..daar gaan vergeldings aksies wees tussen groepe mense veral in KZN wat tot baie sterftes kan lei.Ons het dan ‘n minister van polisie nodig wat kan sê genoeg is genoeg.

ES ·

Ongelukkig is dit die punt – op hierdie stadium is dit nog net bewerings.

Die polisie het bewys, gedurende laas maand se anargie, dat hulle glad nie opgewasse is om effektief te reageer teen grootskaalse geweld nie en die weermag was net plek-plek te sien.

Ons moet maar almal, altyd paraat wees. As die skare weereens kan bewys dat die polisie hulle nie kan keer nie, gaan daar groot moeilikheid wees in die toekoms.

ameli ·

Wat!!!!! Is Malema en trawante toegesluit. Gelees hoofaanhitser is agter tralies!

annie ·

Oraloor is toegangsroetes wat sekerlik beman en motors deursoek kan word. Indien hulle die uitgange by die winkelsentrums gesluit het kon die meeste swernote nie in of uit met die buit nie. Dit is ‘n baie vreemde konsep van veldmaarskalk pluiskeil dat mense nie wapens mag hê of gebruik nie en dan begin sulke dramas afspeel met ander radikale planne op die horison. CR is duidelik nie ‘n wakker wagter op ons land se skansmuur nie. Wie is hy dan eintlik?

Werner ·

Johan Burger droom as hy dink die opstekers sit agter tralies.Hierdie staatsgreep word al jare beplan.Die staatskaping was maar net die eerste stap.Maak seker dat jy na jou geliefdes kan omsien wanneer dit gebeur

gatgogga ·

Ek glo nie die berigte nie, want die lafaards sal nie weerbare instansies teiken nie.

Emily ·

Al sit die baas breins in die tronk, Wat ek nie glo nie, het hulle geld om wie ookal om te koop. So ja wees maar op jul hoede mense.

Anoniem ·

Moes alles so vêr hand uitgeruk het voor die Regering besef hul het ons land in die afgrond gestuur en nie meer beheer oor hul “Mede landsburgers nie” Regtig, ek hoop dat daar nou ‘n omeswaai gaan plaasvind en van die vrot appels in die regering ontslae geraak gaan word en hul bevoegde mede Suid Afrikaners gaan aanstel om te kyk of die land nog gered kan word.

Anel ·

Hulke kla oir dienslewering maar wat gaan die geweld hulle nou help? As hulle, soos verlede maand, alles afbrand en plunder, dan gaan hulle in elke geval minder as niks hê nie. Waar dink hulle moet die geld dan vandaan kom? Hoekom kan mense nie maar hulle geld weerhou aan die munisipaliteite wat nie hul werk doen nie en self die dinge doen nie. Soos alreeds op baie dorpe gedoen word. Maar nou ja, onopgevoedes tree soos onopgevoedes op.

Petrus Albertus ·

Al die oorsake waarna Dr Burger verwys is goed en wel , maar die grootste oorsaak – die asemrowende korrupsie wat die hele land bankrot het en vierkantig voor die ANC se deur gelê moet word – word nie genoem nie. Waaruit spruit die armoede en gepaardgaande ongelykheid anders? Beslis nie meer Apartheid nie.

Marius Gerhardus ·

Jammer mense. Ons Polisie en weermag isi in staat om enige oproer te keer nie. Punt. Niks kan gese of gedun word om dit in die nabye toekoms te verander nie.

fransdutoit3 ·

Die polisie is nie eers in staat om ‘n rioolplaas te beveilig nie.. Dalk moet hulle by voorbaat die dienste van privaat sekuriteitswagte verkry..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.