
Suzanne Leyden. Foto’s: Verskaf.
Die polisie ondersoek ʼn tref-en-trap-saak nadat Suzanne Leyden, die 36-jarige ma en onderwyseres van Randburg, Donderdagoggend etlike meter ver in Sandton, Johannesburg deur ʼn bakkie saamgesleep is.
Leyden, ʼn Afrikaans-onderwyseres by Hoërskool Sandown in Sandton, was Donderdagoggend op pad skool toe, toe sy omstreeks 07:00 in ʼn geringe botsing by die William Nicol-rylaan en Sandtonweg-kruising betrokke was.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburg-metropolisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê ʼn ooggetuie wat langs die pad gestaan het, het gesien hoe ʼn wit man in ʼn wit bakkie (ʼn Hilux of ʼn Isuzu) Leyden se wit Audi A4 van agter tref.
“Die getuie het haar sien uitklim en sy het na die bakkie geloop om die man se inligting te kry,” het Minnaar gesê. “Die bakkie se bestuurder wou glo nie uit die voertuig klim nie. Dit het vir die ooggetuie gelyk of die twee in ʼn argument was. Leyden het glo haar arm deur die venster ingestrek om vermoedelik die sleutels af te neem, waarna die man weggetrek en haar langs die bakkie saamgesleep het.”
Daar word vermoed dat Leyden se arm in die venster vasgehaak het. Die bestuurder van die bakkie het glo vlugtig gestop, haar losgehaak, en weer weggery. Dit is toe dat sy onder die bakkie beland en ʼn paar meter ver gesleep is. Die bakkie het van die ongelukstoneel weggejaag en die bestuurder word steeds gesoek.
Marlize Leyden, Suzanne se suster, het Donderdag aan Maroela Media gesê haar suster se toestand is steeds kritiek maar stabiel. Leyden het kopbeserings opgedoen en het bloeding op die brein. “Sy gaan heelwaarskynlik die hele naweek lank in ʼn geïnduseerde koma gehou word totdat die bloeding en swelling gesak het,” het Leyden gesê.
Leyden het ʼn vyfjarige seun, Armand.
Die metropolisie het ’n dossier van tref-en-trap en roekelose of nalatige bestuur by die Bramley-polisiestasie aanhangig gemaak. Die saak is na die Parkview-polisiestasie oorgeplaas vir verdere ondersoek. Maroela Media wag vir terugvoer van die stasie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
11 Kommentare
Vang asseblieftog daai verdomde bakkiebestuurder en maak seker daar’s behoorlike tronkstraf!!!!
Ek is bly om te sien dat hulle nou die ras van mense begin bekend maak. Ek hoop hulle doen dit met alle berigte.
Suzanne ons bid vir n spoedige en volkome herstel na die gemors jou se seer gemaak het!
‘ ‘n Wit man’ wat die bakkie bestuur het. Vreemde bewoording want moordenaars en rowers is gewoonlik nie swart mans nie maar bloot ‘mans’. Hierdie keer is dit ‘n wit man. Selfs nie eens vir identifikasie doeleindes word swartes swart genoem nie. Ek hoop egter dit dien ‘n identifikasie-doel en dat die ‘wit man’ vasgetrek word en met die volle mag van die wet te doen kry.
Dave ons het ons verskille maar die keer stem ek 200% saam met jou!
Ek glo die bestuurder van die bakkie sal opgespoor word. Dis net ‘n dom besluit om jou hand in ‘n voertuig te druk om sleutels af te neem, veral in die tyd wat ons leef. Woede kan jou dood veroorsaak. Ek hoop en bid hierdie dame herstel volkome.