Polisie se landelike veiligheidsplan sukkel steeds

Polisielede op patrollie in ‘n landelike gebied. (Argieffoto: SA Polisie)

Amper vier jaar nadat die landelike veiligheidsplan deur die minister van polisie bekendgestel is, lyk dit of die implementering daarvan steeds sukkel om behoorlik op dreef te kom.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie is Woensdag op hoogte gebring van die inwerkingstelling van die plan wat reeds verskeie kere afgestof is, maar steeds nog nooit ten volle by alle polisiestasies in werking gestel is nie.

DA-LP Andrew Whitfield sê terwyl misdaad in landelike gebiede skerp styg, het net 808 uit 1 155 polisiestasies tot dusver die plan in werking gestel, terwyl 63 stasies dit steeds net gedeeltelik gedoen het.

“Terwyl die polisie sy voete sleep met die inwerkingstelling van die strategie, het ons ʼn vlaag plaasmoorde, rooftogte op plase, massamoorde in landelike nedersettings en veediefstal gesien wat toegelaat word om ongebreideld in landelike gebiede voort te duur,” sê hy.

Dit word weerspieël in die 2021-’22-boekjaar se misdaadsyfers wat aantoon dat altesame 25 001 voorvalle van veediefstal aangemeld is. Dit is gemiddeld 68 voorvalle elke dag. In die eerste drie kwartale van 2022-’23 is 21 244 voorvalle van veediefstal aangemeld; dit is meer as 77 voorvalle per dag.

“In die Noord-Kaap het meer as die helfte van polisiestasies nog nie die landelike veiligheidsplan ingestel nie en in KwaZulu-Natal het 23% van stasies dit ook nog nie gedoen nie. Uit die top‑30‑polisiestasies rakende veediefstal, is 13 in KwaZulu-Natal en nege in die Oos-Kaap,” sê Whitfield.

“Meer bewyse van ʼn gebrek aan die inwerkingstelling van die nasionale landelike veiligheidsplan is dat net 34% van alle veediefstalle met ʼn inhegtenisneming geëindig het, met die vervolgingskoers waarskynlik selfs laer.”

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiehoof, het toegegee dat daar beslis uitdagings met polisiëring in landelike gebiede is – veral in gebiede wat moeilik begaanbaar is.

“In sommige gebiede duur dit tot twee ure om 20 kilometer af te lê. ʼn Verdagte sien jou van ver af aankom en teen die tyd dat die polisie daar is, is die verdagte lankal weg,” sê hy.

In antwoord op ʼn vraag oor die ontplooiing van die korrekte voertuie vir ʼn spesifieke terrein, het Masemola gesê daar word gereeld bestekopname gedoen en waar die verkeerde soort voertuig in ʼn gebied gebruik word, word dit mettertyd met ʼn gepaste een vervang.

Hy het ook toegegee dat die polisie beperkte lugsteun het, maar sê helikopters word onder meer ingespan om steun in landelike gebiede tydens operasies te gee. Die polisie se afdeling vir tegnologiebestuursdienste is ook besig om hommeltuie te bekom en polisiebeamptes in die gebruik daarvan op te lei sodat dit as bykomende instrument in die stryd teen misdaad ingespan kan word.

Die polisie sal teen die einde van volgende maand na verwagting ʼn omvattende evaluasie van sy eenhede vir veediefstal en bedreigde spesies afhandel as deel van die volledige inwerkingstelling van die landelike veiligheidsplan.

Genl.maj. Susan Pienaar het vandeesweek aan LP’s gesê die aanbevelings wat na afloop van die ondersoek gedoen gaan word, sal insluit ʼn ontleding van enige tekort aan hulpbronne (mense en goedere), asook ʼn aanduiding van die werkslading van beamptes en enige ander uitdagings by die eenheid.

“Oor twee maande sal ons kan terugvoer gee oor die ontplooiing van die spesifieke toerusting,” het die generaal gesê.

Volgens Pienaar is ʼn ontleding ook by alle polisiestasies gedoen om te bepaal wat hul diensvereistes is, hoeveel poste aan ʼn spesifieke polisiestasie toegeken moet word en hoe personeellede herontplooi moet word om te verseker polisiestasies word behoorlik en ten alle tye beman.

“Die ontleding is gedoen om die minimum personeelvlakke van elk van hierdie stasies te bepaal en die postoekenning per provinsie aan te pas,” sê Pienaar.

“Die landelike en landbou-ekonomie is van die grootste belang om die voorspoed, voedselsekerheid en natuurlike diversiteit van Suid-Afrika te verseker. Dit is daarom noodsaaklik dat die polisie nou saam met sy vennote in die regering en burgerlike samelewing werk om die veiligheid van landelike gemeenskappe oor Suid-Afrika heen te verseker.”

LP’s het tydens die vergadering ook benadruk dat die polisie – veral in afgeleë gebiede – die stryd teen misdaad net met die hulp van gemeenskappe gaan wen.

“Hoewel ons ʼn toename in die getal polisiebeamptes verwelkom, weet ons dat daar ʼn uitdaging met kapasiteit is om die strategie doeltreffend in werking te stel,” sê Tina Joemat-Pettersson, komiteevoorsitter.

“Een van die grootste uitdagings is dié gebrek aan kapasiteit, veral binne die misdaadintelligensie-omgewing, om ʼn intelligensiegedrewe strategie behoorlik te dryf.”

Volgens die komitee móét die polisie verseker dat behoorlike hulpbronne beskikbaar is, selfs in verafgeleë en onbegaanbare gebiede sodat hy volhoubaar op enige situasie en op enige plek kan reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.