Polisie skiet ‘blouligrowers’ dood

Die gekaapte Ford Figo nadat dit teen ‘n muur gebots het. (Foto: SAPD)

Die polisie in Gauteng het Woensdagaand drie vermeende blouligrowers in Johannesburg doodgeskiet en een in hegtenis geneem.

Die verdagtes word verbind met kapings en gewapende rooftogte in die noordelike voorstede van Johannesburg. Voertuie met blou ligte is tydens sommige van die voorvalle gebruik om slagoffers te flous.

Lt.kol. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê lede van die polisie en private veiligheidsmaatskappye het gisteraand op inligting rakende die verdagtes gereageer toe die operasie in ’n skietery tussen die owerhede en die verdagtes ontaard het.

Masondo sê die span het omstreeks 19:00 ’n Ford Figo met vier insittendes in Bramley gewaar en die motor probeer voorkeer. Die motor het egter weggejaag terwyl die insittendes van die motor skote op die owerhede afgevuur het.

Die owerhede het toe die motor agternagesit en self skote afgevuur voordat die verdagtes by Marlboroweg beheer oor die motor verloor en teen ’n muur gebots het.

Die verdagtes het almal uit die motor gespring en ’n skietery het uitgebreek.

Drie van die verdagtes is in die proses noodlottig gewond. ’n Vierde verdagte is op die toneel in hegtenis geneem.

Daar is ook beslag gelê op drie ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en ’n blou LED-flitslig.

Daar kon intussen vasgestel word dat die verdagtes se Ford Figo vroeër vandeesmaand in Bramley gekaap is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Frank John ·

Ek hoop daar is meer gevalle waar booswigte aan die pen ry. Nie net enkele gevalle Waarmee hulle spog nie

Watsenaam ·

Bring terug die doodstraf. Die mense sal nie ophou met die soort nonsens nie todat hulle sien die misdaad is nie die moete werd nie. ENIGE MISDAAD!

Marcello ·

Wie dink jy, wie gaan eerste gehang word?????? Defnitief nie Kaders nie.

Cherokee ·

Marcello, hou tog op met die deuntjie. Julle praat agter mekaar aan.

Gert ·

Dis mooi dis die rede hoekom niemand wil stop vir ‘n blou lig nie. Goed gedoen SAP doen dit meer dikwels sodat mense julle weer kan respekteer

TRP ·

Nie seker ek gaan ween oor die rowers nie, ek dink dit is maar die enigste oplossing tot die probleem. Verwyder die probleem.

Henry ·

Mooi as daar nog blou lig skelms is moet hulle ook uitgewis word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.