Polisie vra hulp ná 89-jarige vrou van Bethelsdorp sterf

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

(Argieffoto: Kent Williamson)

Genl.maj. Vuyisile Ncata, distrikskommissaris van die polisie in Nelson Mandelabaai, doen ʼn beroep op die gemeenskap om die polisie te help om die verdagtes op te spoor ná die moord op ʼn 89-jarige vrou van West End, Bethelsdorp.

ʼn Familielid het Sophie Erasmus Saterdagoggend omstreeks 09:00 dood aangetref in die sitkamer van haar huis in St Cyprianstraat. “Sy het op haar maag gelê en haar hande is agter haar rug vasgebind,” sê kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie.

Sy is oor haar kop en in die gesig geslaan met ʼn stomp voorwerp. “Daar was geen teken dat die aanvallers ingebreek het nie. Die enigste item wat vermoedelik gesteel is, is haar handsak.”

Die polisie vermoed die moontlike motief vir die aanval was roof.

Enigiemand met inligting word versoek om sers. Ralton Tarentaal te kontak by die Bethelsdorp-polisiestasie by 064 119 4437 of 08600 10111 of die naaste polisiestasie. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Genl.maj. Vuyisile Ncata, provinsiale polisiekommissaris, het sy skok uitgespreek oor dié “sinnelose aanval op ʼn weerlose tagtigerjarige”. “Ons doen ʼn beroep op die gemeenskap om saam te staan en met ons speurders saam te werk om die verdagtes dadelik op te spoor. As jy enigiets weet of gesien het, dit maak nie saak hoe gering dit voorkom nie, kom asseblief na vore en help ons in dié ondersoek. Gewelddadige optrede soos dié het geen plek in ons samelewing nie. Ons moet daarom saamwerk om die oortreders aan te keer sodat ons saam kan verseker dat geregtigheid geskied vir die nagedagtenis van me. Erasmus.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.