Polisiebeampte verdink van universiteitmoorde

(Foto: Facebook / Fort Hare University)

ʼn Polisiebeampte in die Oos-Kaap is in hegtenis geneem in verband met moorde op personeel van die Universiteit van Fort Hare.

Dit is nog ʼn deurbraak in die ondersoek na die moorde op die instansie se vlootbestuurder Petrus Roets en Mboneli Vesele, die visekanselier prof. Sakhela Buhlungu se lyfwag.

Ses persone is tot dusver in hegtenis geneem in verband met die moorde.

Dit volg ná Januarie se sluipmoordaanval op prof. Sakhela Buhlungu waartydens Vesele dood is. Roets is in Mei verlede jaar vermoor.

“Ons verwelkom die inhegtenisneming, maar is besorg dat die polisiebeampte waarskynlik staatsvoertuie gebruik het om die vermeende huurmoordenaars na die plekke te vervoer waar die moorde gepleeg is,” sê Chantel King, die DA se skaduminister oor hoër onderwys.

Die DA doen ʼn beroep op die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) om die moontlike gebruik van staathulpbronne te ondersoek asook die moontlike betrokkenheid van ander polisiebeamptes by dié moorde.

“Gemeenskappe kyk na die polisie om hul teen misdadigers te beskerm, en nie om self misdadigers te word nie.”

King sê die veiligheid van die universiteitgemeenskap is baie belangrik en hoop dat die SOE-ondersoek vinnig afgehandel sal word sodat die verantwoordelike persone kan boet vir korrupsie by die universiteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.