Polisiebeamptes tydens rooftog in Nyanga geskiet

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn 32-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van roof en vier aanklagte van poging tot moord.

Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, sê ʼn groep mans het Vrydag omstreeks 08:10 die personeel van ʼn kettingwinkel by ʼn winkelsentrum in Nyanga met vuurwapens gedreig. Hulle het die sleutels na die kluis geëis.

“Die bestuurder van die winkel het om hulp geskree en die verdagtes het met kontant van die kasregisters weggehardloop. ʼn Amptelike Nyanga-polisievoertuig het intussen by die parkeerterrein opgedaag en die verdagtes het dadelik op hulle geskiet.”

Drie vroulike polisiebeamptes is ernstig beseer en is na ʼn hospitaal geneem.

“Verdere ondersoek deur lede van die provinsiale ondersoekeenheid, in samewerking met die provinsiale spoorspan, het die span na ʼn adres in Browns Farm, Philippi, gelei. ʼn 32-jarige man is hier in hegtenis geneem.”

Die verdagte sal na verwagting Maandag in die Athlone-landdroshof verskyn.

Die ondersoek duur voort na die oorblywende verdagtes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Ons polisie kort beter opleiding. 3 SAPD lede gewond, 1 dood en geen rower gewond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.