Polisieheld gegroet: ‘Hy was ʼn nasionale bate’

Bheki Cele (Foto: SAPD)

“Sy verbintenis en toewyding het baie lewens gered, soos ook die lewe van die slagoffer wat hy op die dag van sy heengaan gered het.”

Só het Bheki Cele, minister van polisie, kapt. Pierre Marx tydens sy begrafnisdiens in Quigney, Oos-Londen, beskryf.

Cele het Marx as ʼn nasionale bate bestempel en sy familie bedank wat hom ondersteun het in sy loopbaan in die polisie.

Marx (53), ʼn polisieduiker, het verdrink toe hy saam met ander duikers van die Oos-Londen-K9-soek-en-reddingseenheid op ʼn verdrinkingsvoorval in die Horseshoe-vallei in die buitewyke van dié stad gereageer het.

Bheki Cele by Michalene Marx, weduwee van kapt. Pierre Marx. (foto: SAPD)

Hy is deur sterk strome in die Nahoonrivier meegesleur nadat hy ʼn boer van die omgewing uit die water gered het.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het Marx beskryf as ʼn ware dienaar en ʼn toegewyde patriot van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, asook ʼn onbaatsugtige persoon wat ander mense eerste gestel het. Marx het 32 jaar lank in die polisie gedien.

Marx was welbekend en het naam gemaak binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy was geliefd in sy gemeenskap vir sy heldhaftige reddingsaktiwiteite.

Kapt. Pierre Marx

Die Silwer Kruis van Dapperheid is vroeër aan hom toegeken.

Die polisiekommissaris en premier van die Oos-Kaap het ook die afgelope week Marx se huis besoek om hul medelye met sy familie te betoon. Hulle het die toneel besoek waar Marx sy lewe verloor het.

“Sy voorbeeld van onbaatsugtigheid en voortreflike leierskap sal as ʼn baken van hoop vir alle Suid-Afrikaners dien,” het premier Oscar Mbuyane ten tyde van die besoek gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Duidelik het Cele geen idee van respek betoon nie. Mens buig nie. Jy strek. Regop. En dan lig jy jou hoed, as jy siviele klere aan het. Uniformlede salueer!
Weereens sterkte aan die familie en kollegas. Hoop sy vrou kan sy hond hou, want vir die hond is dit net so traumaties!

Swerwer ·

Net weereens ‘n bewys dat hy nie volwaardige opleiding ontvang het nie. Hy het nie ‘n idee van respek betoon nie.

Jr ·

Ek is jammer maar as ek was, is Kojac nie welkom nie. Rus in vrede kaptein. Want grooter liefde het niemand as die een wat sy lewe offer vir iemand anderste

Swerwer ·

Sterkte aan die familie, dit is en bly hartverskeurend. Wonder wat het Hoed deur sy optrede probeer bereik. Opreg was dit beslis nie.

Madz ·

Ek voel so jammer vir die familie… Kojak het nie ‘n CLUE waaroor die gaan nie…. sy afgetrokkenheid is in sy lyftaal te sien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.