Polisiehoë by EFF-saamtrek: Jy word ‘aan jou vriende geken’

(Argieffoto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Talle vrae oor die polisie se misdaadintelligensie-eenheid en die veiligheid van burgers heers ná ʼn polisiegeneraal verlede week ʼn verjaardagdinee van die EFF bygewoon het waar ʼn vermeende rampokker ook teenwoordig was.

“Vir ʼn polisiegeneraal wat tweede in bevel van misdaadintelligensie is om aan dieselfde tafel te sit as die omstrede tabakbaas, Adriano Mazzotti, by ʼn EFF-dinee waarvan die leier, Julius Malema, mense die naweek weer aangehits het om boere te vermoor, is uiters kommerwekkend,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Groenewald meen genl.maj. Feroz Khan se bywoning van die geselligheid is skandelik en ʼn klap in die gesig van Suid-Afrikaners wat daagliks met wydverspreide misdaad en korrupsie worstel.

“Dit laat ook wesenlike vrae ontstaan oor die polisie se erns oor plaasmoorde,” sê Groenewald.

Khan was luidens mediaberigte verlede Donderdag ʼn gas op ʼn glansdinee in Ekurhuleni ter viering van die EFF se tiende bestaansjaar en het ʼn tafel met Mazzotti gedeel.

Volgens Groenewald is Khan se teenwoordigheid ook tekenend van Malema se klaarblyklike siening dat hy bo die reg verhewe is aangaande sy uitsprake wat rassehaat en moord op boere aanhits.

“Pas nadat die Johannesburgse hooggeregshof bevind het dat die Menseregtekommissie (MRK) sy besluit op hersiening moet neem dat Malema se uitlatings nie neerkom op haatspraak nie, het Malema weer die lied “Kill the farmer” voor ʼn volgepakte FNB-stadion gesing.

“Dit wys weereens sy minagting vir die hof se uitspraak,” sê Groenewald.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier (Foto: @ParliamentofRSA/Twitter)

“Die feit dat Khan hierdie geleentheid bygewoon het, wys onomwonde sy noue bande met die EFF.”

Groenewald sê benewens die boodskap wat dit aan Suid-Afrikaners oor misdaad stuur, is dit ook minagtend en gevoelloos teenoor slagoffers van misdaad.

“Khan se sosiale bande met Mazzotti versterk die vermoede dat misdaadintelligensie korrup is en deel vorm van misdaadsindikate.

“Hy verklaar ook sy politieke voorkeur – wat ongewens is vir bestuurslui van die polisie. Dit kan daartoe bydra dat ondersoeke na die EFF verydel word.”

Groenewald sê die minister van polisie moet ʼn gedragskode instel wat hierdie soort optrede verbied.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het glo Khan se optrede verduidelik deur te sê die polisie “is ʼn apolitieke organisasie”. Groenewald meen haar kommentaar hierop is onvanpas en kortsigtig.

“Die polisie kan hom nie so maklik distansieer van Khan se optrede as die persoon wat tweede in bevel staan van ʼn eenheid soos misdaadintelligensie nie.

“ʼn Mens word aan jou vriende geken en wanneer jou vriendekring mense insluit wat na bewering by misdaad betrokke is en wat moord en rassehaat aanjaag, moet dit rooi ligte laat flikker.

“Ek sal vrae in die parlement hieroor aan die minister van polisie, Bheki Cele, asook die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, rig.

“Die polisie moet sê of hy hom met mense soos Mazzotti en Malema vereenselwig,” sê Groenewald.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Truman Burbank ·

Ek het gelukkig geen politieke, joernalis en uniform vriende nie.

Papsak ·

Ja dit wys maar net dat polisie like hierdie korrupsie en misdade en hulle staan saam met Malemma daarom woon hulle sulke gemors by hoekom los Malemma nie ons wittes uit nie ons skuld hulle niks nie regtig

Henry ·

Hy moet onmiddelik geskors word sonder salaris , Is hierdie spesie nie v eronderstel om A polities te wees nie. Dis n absoluter skande dat hy meng met die aasvoels van die land

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.