Polisiekaptein dood ná stryery, skote by karwas

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Polisiekaptein van Mpumalanga is die naweek tydens ’n argument by ’n motorwassery naby Mbombela doodgeskiet.

Die 44-jarige polisiekaptein het Saterdagaand saam met ’n polisiesersant na ’n motorwassery in Kanyamazane gegaan sodat die polisiekaptein se private motor gewas kon word.

Daar gekom het die polisiebeamptes die motor parkeer en hul beurt afgewag.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die bestuurder van ’n ander motor by die wassery het egter in ’n stadium die polisiekaptein se geparkeerde motor gestamp.

Die polisiekaptein en die bestuurder van die ander motor – wat later ’n moordverdagte sou word – het glo ’n gesprek gehad en ooreengekom dat die bestuurder van die ander motor R5 000 aan die polisiekaptein sal betaal om die skade aan sy motor te dek.

Die polisiesersant het die verdagte se motor na die polisiekaptein se ouers se huis geneem waar die motor glo sou staan totdat die polisiekaptein die geld vir die herstelwerk ontvang.

Sekgotodi sê daar het egter ʼn stryery tussen die polisiekaptein en die verdagte ontstaan terwyl die sersant weg was. ’n Skoot is afgevuur en die sersant het met sy terugkeer op sy gewonde kollega afgekom.

“Getuies beweer dat die verdagte tydens die argument ’n vuurwapen uitgehaal en op die oorledene geskiet het.”

‌Die sersant het glo met sy terugkeer probeer om die verdagte aan te keer en dié het ook op die sersant geskiet voordat hy te voet van die toneel gevlug het.

Die sersant is ongedeerd terwyl die polisiekaptein aan sy beserings beswyk het.

Sekgotodi sê die polisie versoek nou vir Sibusiso Maseko van Mariti “wat hulle glo kan help om die moordsaak op te los” om na vore te kom en die ondersoekbeampte in die saak, kapt. Mduduzi Comfort Mkhonza, by 082 304 0052 te kontak of by sy naaste polisiestasie aan te meld.

Die polisie doen ook ’n beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by Mkhonza aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hester Wilhelmina ·

Uhm ja. As iemand jou kar stamp, dan vat julle mekaar ae detail en eis van jou versekering. Jy “impound” nie sy kar tot hy een of ander opgemaakte bedrag betaal nie.

Delia ·

So hoe eis jy iemand se voertuig sonder n lasbrief of iets of het die SAPD manne hier rang getrek.

otter ·

drug deal gone wrong . moenie met my tos praat en se dit is hoe dit gebeur het nie !

Andre ·

Hoekom het die sesant weggery en nie daar gebly nie.Dit lyk asof die kaptein nie die sersant wou betrek nie.

SjN ·

Die man het rang getrek en oneties opgetree en ook sy lewe gekos, dit vir n paar rand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.