Polisiekonstabel vas wat glo haar seun misbruik

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

’n 40-jarige polisiekonstabel van Limpopo is in hegtenis geneem nadat ’n video aan die lig gekom het waarin sy haar (toe) tienjarige seun glo seksueel misbruik.

Die video is wyd op sosiale media versprei.

Die provinsiale polisiekommissaris van Limpopo, lt.genl. Thembi Hadebe, het die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe dadelik opdrag gegee om ʼn ondersoek van stapel te stuur nadat die video onder haar aandag gebring is.

ʼn Saak van verkragting van ʼn minderjarige kind met bykomende aanklagte van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie en seksuele mishandeling van ʼn kind is ook teen die konstabel aanhangig gemaak, sê brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo. Sy is dieselfde dag in hegtenis geneem.

Interne dissiplinêre stappe is reeds begin en sal gelyklopend met die misdaadondersoek gedoen word. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het intussen die ondersoek oorgeneem.

Hadebe sê die optrede van die konstabel is betreurenswaardig en moet ten sterkste veroordeel word.

“Al het die verdagte na bewering hierdie misdaad gepleeg toe sy nog ’n burgerlike beampte in die polisiediens was, moes sy geweet het dat sulke onbehoorlike gedrag kwaai gevolge gaan inhou.

“Die polisie het geen ruimte vir diegene wat sy beeld skade berokken nie.”

Die konstabel het Maandag in die Siyabuswa-landdroshof verskyn. Die saak is tot Maandag uitgestel.

Die slagoffer is reeds na ʼn plek van veiligheid geneem waar hy sielkundige behandeling en berading sal ontvang.

Die identiteit van die vrou word weerhou om haar slagoffer te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Janine ·

“Die polisie het geen ruimte vir diegene wat sy beeld skade berokken nie.” Wat ‘n grap!

Byekonfyt ·

Hoe walglik boos. Mag die kind die regte en genoeg berading ontvang en mag hy ten volle herstel.

madels ·

Hoe erg dat n ma wat haar kinders moet koester en beskerm, die een is wat haar kosbare seun misbruik het. Dit is walglik verby. Ek bid dat die seun in liggaam, siel en gees sal herstel van die skade wat aan hom gedoen is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.