Polisieman gewond tydens skietery in poskantoor

(Argieffoto)

ʼn Polisieman is beseer toe rowers ʼn poskantoor in Tsolo in die Oos-Kaap binnegeval en begin skiet het.

Brig. Tembinkosi Kinana, woordvoerder van die polisie, sê die polisieman was Woensdagoggend aan diens by dié poskantoor om begunstigdes van maatskaplike toelaes, wat Woensdag uitbetaal is, te beveilig.

“Vier verdagtes wat met AK47-gewere gewapen was, het die poskantoor binnegekom en die gewere op die mense gerig,” sê Kinana.

“ʼn Skietery het uitgebreek en die polisieman is in die proses in die bolyf geskiet.”

Die verdagtes is met die polisieman se outomatiese geweer, sy dienspistool en ʼn onbekende bedrag geld vort. Hulle het in ʼn bakkie gevlug wat glo aan een van die mense wat ten tyde van die skietvoorval in die poskantoor was, behoort.

Die polisie het die verdagtes agternagesit en die verlate voertuig ongeveer 20 km van die toneel gevind.

“Die beseerde beampte is na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas vir verdere mediese hulp. Hy is na wat verneem word in ʼn stabiele toestand.”

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het die beampte ʼn spoedige herstel toegewens.

“Die polisie sal nie rus voordat die verdagtes vasgetrek word nie,” het sy gesê.

ʼn Saak van sakeroof en poging tot moord is aanhangig gemaak. Nog niemand is in hierdie stadium in hegtenis geneem nie.

Enigiemand met meer inligting wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, kan die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ou bees ·

Wilde weste dan wil hulle al die wetsgehoorsame burgers ontwapen?

Petrie ·

Wie is so stupid om nou n poskantoor te wil beroof? Die plek is bankkrot….

koos10 ·

Ja maar die polisieman het twee wapens by hom gehad. Genoeg rede vir rowers.
My vraag is, was die polisieman alleen aan diens by die poskantoor?

Coolbanana ·

Plaas Dat die poskantoor pos verwerk…… Tragiese agteruitgang

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.