Polisieman in Soweto-oorstroming meegesleur

Reddingspanne soek al dae lank na die vermiste beampte. (Foto: NSRI)

ʼn Polisieman van Soweto se liggaam is Sondag gevind nadat hy Vrydag tydens oorstromings in die gebied deur die water meegesleur is.

Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, het die nuus bekend gemaak nadat ʼn uitgebreide soektog om ao. Ntsako Pataka op te spoor onderneem is.

“Hy was ten tyde van sy dood, toe sy private voertuig deur die water meegesleur is ná erge reën in die gebied, nie aan diens nie,” sê sy.

“Die 36-jarige beampte was verbonde aan die polisiediens se beskerming- en sekuriteitsdienste waar hy as ʼn BBP-beskermer gedien het. Hy was vir 15 jaar ʼn beampte nadat hy in 2007 by die polisiediens aangesluit het.”

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê verskeie spanne was by die uitgebreide soektog na Pataka betrokke.

“Tydens die soektog is die polisieman se vuurwapen sowat 30 m van sy liggaam in die Kliprivier aangetref,” sê hy.

“Die beampte se liggaam is toe per helikopter na ʼn naburige polisiestasie geneem waar hy aan die forensiese eenheid oorgegee is.”

Ntsako Pataka is sedert Vrydag vermis. (Foto: Verskaf)

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, het die betrokke reddingspanne bedank vir hul onverpoosde pogings om die beampte se liggaam op te spoor.

“Dit is ʼn tragiese einde vir ons en die familie van die beampte wat gehoop het op ʼn positiewe einde. Ons is nogtans dankbaar vir alles wat gedoen is om die beampte op te spoor.”

Traumaberading is aan die geliefdes van Pataka, asook sy vriende en kollegas verskaf.

Woonbuurte in en om Johannesburg is verlede week in chaos gedompel weens swaar reën- en donderbuie wat tot oorstromings en kitsvloede gelei het.

Lede van die NSRI in Gauteng- en Hartbeespoort spook sedert Vrydag om mense regoor Johannesburg te help wat deur oorstromings geraak is. Verskeie grootskaalse reddingspogings, in samewerking met verskeie reddingseenhede, is aangewend en talle mense is in die proses gehelp.

Die NSRI het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om waaksaam te wees, aangesien daar na verwagting vandeesweek nog meer reën vir Gauteng voorspel word.

“Moet asseblief nie laagliggende brûe wat onder water is probeer oorsteek nie en hou jou oë oop vir groot massas water,” sê Lambinon.

Dele van Johannesburg is ook steeds sonder krag gelaat nadat die oorstromings van die stad se kraginfrastruktuur beskadig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Harley Davidson ·

Hierdie is net my opinie hoekom doen julle nie n berig oor diskriminasie teen minderhede in die polisie as dit by bevordering kom nie .

Christelle ·

RIV dankie vir jou diens. Sterkte aan die familie en vriende.

Jacobus ·

Jammer om te hoor. Hierdie blouligbrigade dink mos hulle kan altyd ry soos hulle wil. Ander ook hier gelees van een blouligbrigade VIP WAGTE wat dood is in hoespoed ingeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.