Polisieman ontferm hom oor verwaarloosde kinders

Sers. Andrew Ntlhati saam met twee van die kinders (Foto: SAPD)

Spiekeries aangetrek en reg vir skool – en dít alles danksy ʼn barmhartige polisiebeampte en sy vrou wat hulle oor drie verwaarloosde kinders ontferm het.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê beamptes het in September inligting ontvang dat die kinders, onderskeidelik twee, agt en 11 jaar oud, alleen in die middernagtelike ure in die strate van Jan Kempdorp ronddwaal.

Die polisie het dadelik ondersoek ingestel en vasgestel dat die kinders ondervoed en fisiek mishandel is.

“Die ma van die kinders is vir kinderverwaarlosing in hegtenis geneem en het in die plaaslike landdroshof verskyn. Sy is op waarskuwing vrygelaat en die kinders is uit haar sorg verwyder. Die kinders woon tans by ʼn versorger,” sê Kock.

Die ma verskyn na verwagting later vandag weer in die hof.

Kock sê dit het ook aan die lig gekom dat die twee ouer kinders twee jaar lank glad nie skoolgegaan het nie.

Sers. Andrew Ntlhati, verbonde aan die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) in Hartswater, en sy vrou het hulle oor die kinders ontferm en onder meer verseker dat die twee ouer kinders by ʼn plaaslike laerskool ingeskryf word.

Die egpaar het selfs verder gegaan en hulle van skoolklere voorsien. Die tweejarige het danksy Ntlhati en sy vrou ook nuwe kleertjies gekry.

Kock sê ʼn plaaslike sakeonderneming, die Overland-drankwinkel op Jan Kempdorp, het ook ingespring en kruideniersware vir die kinders voorsien.

Nicky Mills, die provinsiale hoof van die Noord-Kaapse FCS, het Ntlhati en sy vrou vir hul goedhartigheid bedank.

“Dit is wonderlik om te sien dat polisiemanne en -vroue steeds bereid is om die ekstra myl te loop vir slagoffers van gruwelike misdade,” sê Mills.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Mari ·

Wat `n warm stukkie bron van inligting!
Daar is soveel gevalle daar buite, veral as dit by kinders kom….Baie dankie

Patch ·

Pragtige, goedvoel berig. Dankie Sers. Ntlhati dat jy en jou vrou nog glo in goedheid en barmhartigheid. Julle sal in oorvloed geseën word.

Misky ·

Dit is so lekker om so berig te lees en te weet daar is nog geregsdienaars wat werklik daar is om te help en die regte bedoelings het. So mooi gebaar

Mallie ·

Mag julle geseend wees in alles wat julle doen. Julle sal nooit spyt wees oor wat julle vir die kinders gedoen het nie en nog gaan doen.

anniekiewiet ·

Baie dankie aan God wat in hulle harte en hande soveel liefde voorsien.

Mariana ·

Dit is wonderlik om te hoor dat daar tog nog goeie dade is van mense wat omgee. Weet ook daar is baie sulke gevalle van ontferming. Dis hoe dit hoort. Dankie vir elke onbaatsugtige optrede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.