Polisieman ontvoer, vermoor glo verdagte

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

Die onafhanklike polisie‑ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek ʼn saak van ontvoering en moord wat verlede maand teen ʼn polisiebeampte van die Mariannhill-polisiestasie in KwaZulu-Natal aanhangig gemaak is.

Lizzy Suping, woordvoerder van Opod, sê die betrokke sersant is op 8 September in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn verdagte in Dassenhoek, Mariannhill, ontvoer en daarna vermoor het.

“Opod se ondersoek het tot die ontdekking van die oorledene se liggaam gelei. Die liggaam is onder ʼn stormwaterpyp naby Camperdown-nedersetting gevind,” sê Suping.

Opod is deur die KwaZulu-Natalse polisie se soek-en-reddingseenheid, honde-eenheid en nasionale intervensie-eenheid bygestaan.

“Die verdagte wat dood is, is na bewering op 21 Augustus deur die beskuldigde vir ondervraging ingeneem en het nooit teruggekeer huis toe nie.”

Die beskuldigde word by die Pinetown-polisieselle aangehou en sal na verwagting Maandag in die Pinetown-landdroshof verskyn.

Opod se ondersoek gaan voort met die moontlikheid van nog inhegtenisnemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gawie ·

Die beweerde moord het eers op 21 Augustus plaasgevind, maar die sersant is reeds op 8 Augustus in hegtenis geneem?
Maroela, dalk moet julle die datums bevestig.

Megan Swart ·

Dagsê Gawie
Ons vra om verskoning vir die verwarring. Die twee datums was omgeruil.
Die artikel is reeds gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan nms Maroela Media

Gawie ·

Hi Megan
Dankie vir die terugvoer. Ek dink julle het nou julle datums heeltemal deurmekaar – volgens ander nuusblaaie het die beweerde misdaad op 21 Agustus plaasgevind, en die sersant is op 8 Septemberin hegtenis geneem (nie 8 Augustus nie).

Megan Swart ·

Dagsê Gawie
Die datums is nou gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan nms Maroela Media

domheks ·

Dis nou die mense wat ons veronderstel is om te vertrou! Dankie cele!

Nie Verbaas ·

Laat ons maar nie uitbrei oor mag in die hande van swak opgeleide en minder intelligente lede nie en die hopelose Cele en Ramaphosa besef nog steeds nie in watter groot moeilikheid die land se polisiemag en weermag is nie.

Danie ·

Nou toe nou waarvoor was die polisieman bang om so ver te gaan.Dit wys jou weereens wetteloosheid in die orde van die dag.Wie moet ons vertrou mr hoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.