ʼn Polisiebeampte van KwaDabeka in KwaZulu-Natal het sy swanger meisie gewond voordat hy selfmoord gepleeg het.
“Volgens berigte het konstabel Lizwe Mkhize (32) Woensdag sy dienspistool gebruik om sy 22-jarige meisie, wat sewe maande swanger is, te skiet,” het Willies Mchunu, LUR vir gemeenskapsveiligheid, gesê. “Mkhize is op die toneel dood, maar die meisie en haar baba het oorleef. Hulle is steeds in die hospitaal.”
Dit is nie duidelik wat tot die skietery gelei het nie.
“Ons sal ondersoek instel om te bepaal wat regtig gebeur het en om metodes te kry om soortgelyke voorvalle te verhoed,” het Mchunu gesê.