Polisieman sterf in Nkandla-koeëlreën

(Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie in KwaZulu-Natal het binne ʼn dag twee inhegtenisnemings gedoen nadat ʼn polisiebeampte in ʼn skietery by Vimbimbobo, in die omgewing van Nkandla, doodgeskiet en ʼn ander ernstig gewond is.

Brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, sê beamptes verbonde aan die Nkandla-polisiekantoor het Woensdagaand omstreeks 21:30 inligting opgevolg oor ʼn man wat glo in die onwettige besit van ʼn vuurwapen was.

“Terwyl die beamptes die verdagte se huis genader het, is hulle begroet met ʼn koeëlreën uit die huis en ʼn skietery het uitgebreek,” sê Naicker.

Twee beamptes is gewond en is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem. Konst. Happy Sipho Dladla (36) het later aan sy beserings beswyk. Nog ʼn polisiebeampte is steeds in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.

“Die verdagtes het ʼn pistool van die beseerde polisiebeamptes gesteel voordat hulle die duisternis ingevlug het,” sê Naicker.

Hy sê verskeie polisie-eenhede, beamptes van naburige polisiestasies en lede van die Valke het deurnag gewerk om die aanvallers op te spoor. ʼn 34-jarige verdagte is aangekeer op aanklag van moord, poging tot moord en gewapende roof nadat hy in ʼn huis in die omgewing gevind is.

Die vuurwapen wat pas gebuit is, was in sy besit. Die man is tydens die skietery self beseer en word onder polisiebewaking in ʼn hospitaal behandel.

Naicker sê ʼn tweede verdagte (40) is na ʼn uitgebreide soektog ook aangekeer. Hy verskyn binnekort in die hof.

Die KwaZulu-Natalse polisiehoof, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, het sy medelye met Dladla se familie, vriende en kollegas betuig.

“Ons is trots op hom. Hy het gesterf terwyl hy gedoen het waarvoor hy lief was – om sy gemeenskap te beskerm. Ons word vertroos deur die feit dat die [vermeende] skuldiges agter tralies is waar hulle hoort.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jannie van Niekerk ·

Nkandla? Is hulle nie dalk deel van ou Carl Grootlieg se veertienjarige MK Veterane nie?

pompies ·

Ek wonder wat maak Nkandla so belangrik dat daar so vinnig polisie van ander stasies aangese word om te gaan help soek. Wanneer gaan sulke optrede reg deur die land gedoen word Mnr. Hoed, ons weet wat en wie in Nkandlaaaa bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.