Polisieman, vrou sterf in Limpopo-ongeluk

(Foto: SA Polisie)

ʼn Polisiebeampte is een van twee mense wat dood is ʼn in ongeluk in die omgewing van Dorset naby Vaalwater in Limpopo.

Lt.kol. Johannes Kgasi Monama (57) en nog drie mense was Dinsdag omstreeks 07:30 in ʼn Volkswagen Polo op reis toe hulle op die R33 reg van voor met ʼn Isuzu-bakkie gebots het. Die polisiebeampte en die ander drie mense was op pad werk toe.

Die bakkie, met twee insittendes, was van Lephalale na Vaalwater op pad, sê kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.

Monama en een van die insittendes van die bakkie is op die toneel dood. Vier ander mense is met ernstige beserings na ʼn hospitaal geneem.

Die naam van die 54-jarige vrou wat ook in die ongeluk gesterf het, sal later bekend gemaak word. Die ongeluk word ondersoek en ʼn saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.

“Die Limpopo-polisie het ʼn ware polisieman verloor wat sy werk nougeset gedoen het. Ons betuig ons diepe medelye met die families van die oorledenes, hul vriende en kollegas. Ons wens hulle alle sterkte in hierdie tyd toe,” sê lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiehoof.

Sy het ook die beseerdes ʼn spoedige herstel toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JOHN ·

Hoekom gebeur al die tragiese ongelukke in Limpopo so baie. Ek wonder maar net……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.