Posbank-wetgewing ‘bedreig ekonomie’

(Foto: SA Poskantoor)

Die goedkeuring van die wysigingswetsontwerp op die Suid-Afrikaanse Posbank is ʼn “bedreiging vir ekonomiese stabiliteit” aangesien dit onvolhoubare fiskale praktyke net verder verdiep, het die DA Donderdag gesê.

Die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het dié wetgewing vandeesweek goedgekeur en dit sal nou na pres. Cyril Ramaphosa vir goedkeuring gestuur word.

Die wetgewing baan die weg vir die fasilitering van ʼn oordrag in aandeelhouding van die Poskantoor na die regering en die skep van ʼn bankbeheermaatskappy vir die Posbank. Dit beteken die bank skuif onder die toesig van die Poskantoor na dié beheermaatskappy en dít val weer onder die toesig van die departement van kommunikasie en digitale tegnologie.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, meen die wetgewing is egter net nog ʼn manier vir die ANC om staatshulpbronne vir sy eie gewin te misbruik.

“Hierdie wetsontwerp, wat nou op die president se lessenaar lê en wag om bekragtig te word, stel die stigting van ʼn nuwe beheermaatskappy vir die Posbank voor. Hierdie stap is oënskynlik ontwerp om die Posbank se registrasie as ʼn bankbeheermaatskappy te vergemaklik, wat dit in staat stel om as ʼn volwaardige bank te funksioneer.

“Dit is ʼn kwalik bedekte poging om nog ʼn manier vir ANC-lede te skep om staatshulpbronne te misbruik.”

George sê voorts die ANC se “desperaatheid” word al meer tasbaar hoe nader die land aan die 2024-verkiesing beweeg.

“Die wetsontwerp se vordering deur die parlement was nie ʼn demokratiese proses nie; dit was ʼn klassieke geval van politieke maneuvrering, gedryf deur die ANC se onversadigbare begeerte om sy ondersteuningsnetwerke uit te brei en soveel as moontlik in te palm voordat hy moontlik meerderheidsbeheer verloor.

“Die ANC se argument vir die noodsaaklikheid van ʼn staatsbank is geskoei op die verskaffing van finansiële dienste aan klein of middelslagondernemings (KMMO’s) en ekonomies benadeelde entrepreneurs. Die party voer aan ʼn staatsbank is ʼn lewensvatbare en bekostigbare alternatief vir kommersiële bankinstellings. Dié argument is egter uiters gebrekkig.”

George sê pleks daarvan om politieke kapitaal en belastinggeld op ʼn staatsbank te vermors, moet daar eerder op die skep van sakegeleenthede in die staat- en private sektor gefokus word.

“Die ANC moet eerder ʼn omgewing skep wat opkomende entrepreneurs koester. As die regering werklik daartoe verbind was om minderbevoorregte entrepreneurs te ondersteun, sal hy ʼn bestendige en bevorderlike beleidsomgewing vir kleinsakeondernemings daarstel.

“Dit kan bereik word deur die vereenvoudiging van burokratiese prosesse, die verbetering van dienslewering en die implementering van veelgeroemde regeringsinfrastruktuurplanne, wat ekonomiese aktiwiteite oor verskeie sektore kan stimuleer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

JohanR ·

Dit gaan nie oor PosBank nie maar eerder dat die kaders moet vreet. Was daar al iewers in enige iets wat die staat bedryf in 29 jaar sukses?

Shakespeare ·

ALLES wat die ANC aan raak bedreig die menslike spesie se waardige voortbestaan.

Koos 100 ·

Nog ‘n stuk nuttelose, onnodige wetgewing. Bestaande wetgewing kan nie afgedwing word nie, maar nuwes word daagliks afgekondig, net om deur die howe ter syde gestel te word.

Hendrik ·

Is die poskantoor dan onmisbaar. Ondersteun maar net nie die nuwe trog nie. Dit is in elkgeval n risiko om daarvan gebruik te maak. Persone in die privaatsektor het seker die reg om tot hd diens te tree. Hoeveel koerierdienste bestaan nie al daar nie?

Koos 100 ·

Hendrik, dink SAA. Die regering sal aanhou geld inpomp om die dooie perd op sy pote te hou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.