Poskantoor steier oor Sassa-kaarte wat verval

Chaos het vandeesweek by die Athlone-poskantoor geheers omdat talle Sassa-kaarte wat verval, dringend hernu moet word. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Chaos het vandeesweek buite die poskantoor in Athlone, Kaapstad, geheers terwyl die tak oënskynlik steier onder druk om talle goue maatskapliketoelaagkaarte, wat oor die volgende paar maande verval, te hernieu.

Die organisasie Black Sash is egter bekommerd dat die probleem veel meer wydverspreid is.

Posbank laai begunstigdes se maatskaplike toelae op dié goue kaarte.

Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het begunstigdes wie se kaarte reeds verval het, aangeraai om hul naaste poskantoor te besoek om ʼn nuwe kaart te onvang. Nie alle poskantore kan egter hierdie diens lewer nie.

Volgens Bongani Diako, woordvoerder van Posbank, het sowat 175 000 kaarte aan die einde van Maart verval. Hy sê die poskantoor het begin met ʼn geleidelike proses om die nuwe kaarte uit te reik en dat byna alle begunstigdes wie se kaarte verlede maand verval het, reeds nuwe kaarte ontvang het.

Die hoeveelheid mens wat steeds nuwe kaarte moet kry, groei egter beduidend. In April sal sowat 860 000 kaarte verval, byna 2,8 miljoen verval volgende maand en nóg 1,8 miljoen in Junie, sê Posbank.

Buite die poskantoor in Athlone was daar die afgelope week lang toue mense.

Thandi Henkeman, die Wes-Kaapse streeksbestuurder van Black Sash, sê die situasie vererger deurlopend en die hulp van die polisie moes ingeroep word om met skarebeheer te help.

Henkeman sê hulle is bekommerd oor verskeie kwessies, onder meer die begunstigdes se reg op waardigheid. Talle pensioenarisse staan ure lank in die tou, sonder enige stoele of beskerming teen die elemente.

Die poskantoor in Athlone het ook beperkte kapasiteit om almal wat nuwe goue kaarte benodig te help. Dit is boonop benewens die begunstigdes wat van die poskantoor gebruik maak om hul toelae te ontvang of diegene wat hulp met betalingsprobleme nodig het, sê Henkeman.

Pensioenaris Cecilia Daniels het al om 05:30 in die tou geval in die hoop dat sy gehelp sal word. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

“Die poskantoor swig onder die druk en is swak toegerus om almal wat dadelik hulp nodig het te help.

“Die regte is veronderstel om beskikbaar vir alle Suid-Afrikaners te wees, met die enigste voorwaarde daaraan gekoppel dat jy moet opdaag. Dit is nie ʼn voorreg nie.”

Henkeman sê ook die situasie in Athlone is ʼn aanduiding van gebeure by poskantore elders in die land.

Kommer heers ook oor die veiligheid van poskantoorwerkers en begunstigdes ná berigte oor rooftogte by verskeie poskantore.

Nog ʼn probleem is die nie-betaling van goedgekeurde toelae met mense wat van bakboord na stuurboord gestuur word om te probeer vasstel waarom hul toelae nie betaal is nie.

Diako sê egter dit is nie ongewoon om toue tydens spitstye van ekonomiese bedrywighede by winkels, kitsbanke en inkopiesentrums te sien nie, veral tydens Sassa-betalingsdatums.

Sassa het nie op navrae gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.