Postmasburg se gesondheidsdienste by MRK verkla

Argieffoto

Sommige provinsiale ambulanse van Postmasburg in die Noord-Kaap vervoer glo pasiënte ten spyte daarvan dat die ambulanse se lisensieskyfies verval het óf nie oor die nodige sertifikaat van bevoegdheid beskik nie.

Daar is boonop ’n tekort aan personeel om die ambulanse te bestuur, terwyl die naaste ongevalle-eenheid in Upington en Kimberley geleë is – sowat 200 km daarvandaan.

ActionSA in die Noord-Kaap gaan nou ’n klag by die Menseregtekommissie indien oor die “onmenslike gesondheidsdienste” wat aan die gemeenskap van Postmasburg verskaf word.

“Hierdie bestuursmislukkings plaas mense se lewe in gevaar,” sê Andrew Louw, ActionSA se provinsiale voorsitter, nadat die party Postmasburg Donderdag besoek het.

Louw vertel van ’n bejaarde vrou van Bortsoko, Postmasburg, wat onlangs om 09:15 deur ’n skerpioen gebyt is en ’n ambulans ontbied het. Teen 13:55 het daar nog geen ambulans opgedaag om haar na die hospitaal te vervoer nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat mense slegs in noodgevalle toegang tot gesondheidsorgfasiliteite kan kry indien hulle wel toegang tot privaat vervoer het. Die provinsiale regering moet dringend die lewensgevaarlike situasie aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.