Pretoria Sakekamer wil ‘rentmeesters vir die stad’ wees

Die Pretoria Sakekamer, wat sakebelange in die hoofstad wil bevorder deur ʼn selfstandige en staatsbestande sakegemeenskap te help saamsnoer, is vandeesmaand bekendgestel.

Hulle beoog om, gegrond op betaalde lidmaatskap, te ontwikkel tot ʼn selfstandige instelling wat toegewyd snags wakker lê oor die sakelandskap van die Pretoria-omgewing. Die Sakekamer se hoofdoelstelling wesende om die stad te herbou tot ʼn wêreldklas‑sakesentrum deur munisipale en infrastruktuurverval te help omskep in winsgewende en volhoubare sakegeleenthede.

As ʼn selfgeïdentifiseerde dinkgroep, doengroep en drukgroep onderhandel dié organisasie nie met enige politieke party of instelling nie, maar neem eerder self verantwoordelikheid en eis verantwoordbaarheid in belang van die sakegemeenskap. Die Pretoria Sakekamer het daarom by sy bekendstelling die oproep aan ondernemings gedoen om saam met die organisasie “rentmeesters vir die stad” te wees.

Tydens die spogbekendstelling het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, klem geplaas op hoe sakekamers orde in plaaslike ekonomieë kan help herstel.

Piet le Roux (Foto: Ryno Cronje)

“Sakelui [is] vasberade om te wys hoe georganiseerde sakegemeenskappe oplossings vir staatsverval kan bied, sonder om van die staat se samewerking afhanklik te wees.”

Deur self verantwoordelikheid op te neem en verantwoordbaarheid te eis, kan die praktiese en morele gesag van die sakegemeenskap volgens Le Roux ontsaglik toeneem in die vakuum van staatsverval.

Dawie Klopper (Foto: Ryno Cronje)

Le Roux het verder verduidelik hoedat Sakeliga as georganiseerde sakegemeenskap egter nie verantwoordelikheid vir plaaslike sakekamers wil of gaan neem nie, maar eerder aan die oorkoepelende beleidsraamwerk vir ʼn gunstige sakeomgewing aanhou skaaf.

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Konsult in Pretoria-Oos, het weer ʼn grouer prentjie geskets van die plaaslike, nasionale en internasionale ekonomiese omstandighede waarbinne dié Sakekamer sukses gaan probeer najaag.

Klopper meen die stad se grootste taak en uitdaging is om sy verpakking so reg te ruk dat hy weer aantreklik word as globale stad – dit is egter ook ʼn grootse geleentheid indien dit suksesvol gedoen word.

Neerejh Ramlakhan, stigter en groephoof van AOS en kenner van bestuurskonsultasie op munisipale vlak, het weer klem geplaas op hoe die Pretoria Sakekamer prakties op plaaslikeregeringsvlak hul beoogde doelwitte kan verwesenlik.

Die vyf pilare van praktiese sukses wat Ramlakhan uitgewys het, sluit in:

Neerejh Ramlakhan (Foto: Ryno Cronje)

  1. Skep wyksforums waardeur die sakegemeenskap se belange verwoord en verteenwoordig kan word.
  2. Organiseer mense op grondvlak so dat hulle in staat is om die verskil wat hulle in hul gemeenskap wil maak, in geteikende druk te kan verander.
  3. Stig ʼn oorlogskamer in elke gebied (region) van die stad waarin stadsbestuurders betrek kan word om die sakegemeenskap se belange met munisipale burokrasie se werkinge te verweef en versoen.
  4. Bestudeer die geïntegreerde ontwikkelingsplan van die stad en wend die inhoud daarvan tot voordeel van die sakegemeenskap aan.
  5. Kweek ʼn bewustheid in die gemeenskap oor die belangrikheid van ʼn goed funksionerende en beskermde sakegemeenskap.

Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, gesiene bestuurskonsultant en besigheidsafrigter, het die geleentheid afgesluit deur klem te plaas op die nuwe era wat dié Sakekamer in die Pretoriase sakegemeenskap inlui.

Fergus Ferguson (Foto: Ryno Cronje)

Volgens Ferguson is die sakegemeenskap moeg vir die slagoffer wees van rugsteekpolitiek, staatsverval, onverantwoordbaarheid en uitgelewerdheid. Daarom berus die Pretoria Sakekamer se strategie op die twee bene van enersyds eienaarskap neem en andersyds eienaarskap eis.

Volgens Ferguson wil die Pretoria Sakekamer die plaaslike sakegemeenskap bemagtig om rentmeesters vir die stad eerder as slagoffers van die politiek van die stad te wees.

“Ons kan egter nie dié stad omdraai as ons nie God se seën het nie. God regeer hierdie stad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.