Prime Circle het ʼn nuwe hoofsanger

Gavin Edwards. (Foto: Facebook/Gavin Edwards)

Die Suid-Afrikaanse rockgroep, Prime Circle, het Dinsdag aangekondig dat Gavin Edwards, ʼn Engelse sanger en eerste naaswenner van The Voice SA, Ross Learmonth se plek as hoofsanger gaan inneem.

“Ons is baie opgewonde om aan te kondig dat Gavin Edwards agter die mikrofoon gaan inskuif as die nuwe sanger van Prime Circle. Hierdie ongelooflike sanger en liedjieskrywer bring 28 jaar se wêreldwye ervaring, ʼn gedeelde visie en passie na die groep, en ons kan nie wag om vir jou te wys waaraan ons saamgewerk het nie,” het die groep in ʼn plasing op hul amptelike Facebookblad geskryf.

Die 44-jarige Edwards se oudisie vir die eerste aflewering van The Voice SA het in 2016 aandag getrek danksy sy treffende weergawe van A Great Big World se “Say Something”.

Hoewel hy nie as wenner as die stryd getree het nie, is sy eers enkelsnit, “Sparks”, dieselfde jaar uitgereik. Ander suksesvolle enkelsnitte, insluitende 2020 se “Heroes” het daarna gevolg.

Aanhangers kan in Maartmaand uitsien na ʼn nuwe Prime Circle-enkelsnit, gevolg deur Edwards en die groep se eerste kortspeelalbum saam, getiteld “The World We Know”.

Die groep se jongste kortspeelalbum is binnekort beskikbaar. (Foto: Facebook/Prime Circle)

“Ons sien uit daarna om julle binnekort daar buite op die pad te sien, en ons bedank ons ​​wonderlike aanhangers vir julle onwrikbare ondersteuning sedert ons hierdie nuwe reis aangepak het,” lui die groep se Facebook-inskrywing.

Maroela Media het vroeër berig dat Learmonth en die groep besluit het om ná 23 jaar saam paadjies te skei.

Die rasperstemsanger, wat in 2023 sy debuut-soloalbum uitgereik het, het in ʼn amptelike verklaring verduidelik dat hy en die groep “kreatiewe verskille” ervaar, en dat hy gevolglik sy aandag op sy sololoopbaan wil vestig.

Volgens Learmonth is daar pogings aangewend om terselfdertyd sy rolle as Prime Circle-voorsanger en solokunstenaar te vervul, “maar ʼn ander besluit is gemaak, wat ek moet respekteer”.

Hy beskryf die besluit as “die moeilikste een wat ek nog gemaak het”, en het die oorblywende lede, bestaande uit Dirk Bisschoff, Marco Gomes, Neil Breytenbach and Dale Schnettler, sukses toegewens.

Prime Circle is in 2000 deur Gomes gestig en het plaaslike en internasionale sukses geniet met hul treffers soos “Hello” en “She Always Gets What She Wants”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kombiman ·

Awesome!! Groot skoene om te vul maar eks seker Gavin sal homself goed vestig daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.