Prime vlieg van winkelrakke

Die sportdrankie Prime. (Foto: Dawid Brand)

In wat beskryf word as die grootste stormloop sedert die toiletpapierresies tydens die Covid-19-pandemie, kon Suid-Afrikaners nie wag om op Werkersdag hul hande op die gewilde internasionale sportdrankie Prime te lê nie.

Verbruikers kon gisteraand vanaf 22:00 op Checkers se Sixty60-app tot agt van dié drankies per klant koop en die beskikbare voorraad was binne minute uitverkoop. Die grou weer het geesdriftiges ook nie afgeskrik om vroegoggend lang toue buite Checkers-winkeldeure te vorm nie. Die beskikbare voorraad Prime Hydration, wat aanvanklik in 237 winkels in die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal bekend gestel is, is ewe vinnig opgeslurp.

Volgens ʼn Checkers-woordvoerder was die belangstelling oorweldigend. “Winkelwerknemers het reeds om 05:00 begin om voorraad uit te pak en Sixty60-motorfietsbestuurders was om 07:00 slaggereed om voet in die hoek met die eerste aflewerings te sit.”

Die krag van sosiale media en beïnvloeders (“influencers”) se rol in verbruikers se koopbesluite, veral Generasie Z (wat tussen 1997 en 2010 gebore is), is klinkklaar uit die geweldige gegons en geskarrel om Prime op te raap. Daar is groot gewag gemaak van die Suid-Afrikaanse bekendstelling en Checkers se supersakeslim-kleinhandelooreenkoms om dié gewilde drankie op sy rakke te sit.

Prime is in 2022 deur die YouTube-sterre Logan Paul en KSI, wat saam meer as 100 miljoen volgelinge op sosiale media het, in die VSA, Brittanje en Australië bekendgestel. Na berig word, spog Prime sedert sy bekendstelling met verkope van nagenoeg $250 miljoen (sowat R4,5 miljard), waarvan sowat $45 miljoen (R810 miljoen) net in Januarie vanjaar was.

Suid-Afrikaners moes tot dusver honderde rande hoes om hul hande op ʼn 500 ml-botteltjie Prime te lê. Na berig word, is slukkies op die speelgrond vir tot R50 verkwansel en kon ʼn botteljie jou sak met tot soveel as R1 400 ruk. Die prys op e-handelplatforms soos Takealot het oornag van sowat R700 (op 30 April) tot R146 (op 1 Mei) gedaal.

Checkers se blitsverkoping het vier Prime Hydration-geure – Ice Pop, Blue Raspberry, Lemon Lime en Tropical Punch – teen R39,99 elk aangebied. Prime Hydration bevat geen bygevoegde suiker of kafeïen nie en slegs 20 kalorieë. Dit bestaan uit 10%-klapperwater, en bevat ook elektroliete, vitamien A en E, asook sink en aminosure.

Prime het ook ʼn kafeïenbelaaide energieboetie, maar dié word nie tans deur Checkers verkoop nie. Laatslapers hoef nie te vrees nie; ʼn vars voorraad Prime Hydration sal deur die loop van die maand by Checkers-takke landwyd beskikbaar wees.

@sheamcalery

Prime in SA #ksi #loganpaul #prime #primesouthafrica #drinkprime @KSI @Logan Paul @PRIME

♬ Voices (feat. Oliver Tree) – KSI

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek kan nie glo dat die meerderheid huidige benaadeeldes was nie,dit blyk baie goed met hulle te gaan om ‘n produk of die bemarker daarvan as ‘n soort afgod te ondersteun ,ek skaam my om met julle geassosieer te word.

annie ·

Twak, maar ons mense het skynbaar nog genoeg geld om daarmee te mors…

SwartBees ·

Jip, hulle pleit armoede maar staan met n ciabatta onder die arm.

ES ·

Dis eintlik net ‘n foefie – maar die vervaardigers stap lag-lag bank toe. Jy kan als wat in daai botteltjie is (plus meer) in ‘n vitamine kapsule kry…

TRP ·

Ek is seker agter die klip want ek het hierdie hoofstuk gemis, tog voel dit nie of ek iets mis.

Raadsman ·

Almal wil net proe.
Die goed het dubbel die suiker in as ander koeldrank en is peper duur. As die prys nie halfveer nie is alles binne 3 maande van die rakke af.

SwartBees ·

Die generasie is gullible en vreet als op wat sogenaamnde influencers hulle voer. Hulle kan hulle influence om hul eie poof te eet en hulle sal dit doen. Dankie tik tok, twitter, FB, Youtube….ens.

JvR ·

Wys jou net. Hulle en hul ouers het ook seker vuisgeslaan vir toilet papier

Veronika ·

Regtig? Mense is mal!! Energies drankies, kaffiene of te not is elk geval nie goed vir mens nie!

JvR ·

Vitamien aanvullings ook nie. Jare gelede het n prof op RSG gese, al wat vitamin C aanvullings doen, is om vir jou baie duur urine te gee

Annelize ·

Dis eenvoudigheid en belaglikheid in die oortreffende trap!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.