Private ondersoek ná olifant veldgids vertrap

Sheldon Hooper (Foto: Verskaf)

Die ouers van ’n jong veldgids wat in Augustus verlede jaar deur ’n olifantkoei by ’n luukse natuurreservaat in die omgewing van Hoedspruit vertrap is, het sowat ses maande later meer vrae as antwoorde rakende hul seun Sheldon Hooper (27) se dood.

Volgens Hooper se ouers het ál meer vrae intussen oor daadie noodlottige dag opgeduik.

Die ouerpaar het nou die private ondersoeker Mike Bolhuis en sy span ondersoekers aangestel om die omstandighede rakende Sheldon se dood te ondersoek.

Maroela Media het vroeër berig Hooper is op 18 Augustus deur ’n olifantkoei by die River Lodge by die luukse Thornybush-natuurreservaat aangrensend aan die Nasionale Krugerwildtuin vertrap.

Bolhuis en sy span is aangestel om die presiese oorsake van dié voorval te ondersoek. Hy moet ook vasstel wie verantwoordelik gehou moet word vir Sheldon se dood en watter gebeure ná die voorval afgespeel het.

Gordon Hooper, Sheldon se pa, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die familie is “ontevrede” met die antwoorde wat tot op hede verskaf is rakende Sheldon se dood, vandaar die behoefte aan ’n private ondersoek.

“Ons wil nie hê nog meer mense moet soos Sheldon doodgaan nie.”

Voorlopige inligting het destyds ná die voorval daarop gedui dat Sheldon en nog ’n veldgids die betrokke oggend, soos beplan, heinings in die omgewing van die River Lodge nagegaan het.

Hoewel die lodges in die reservaat toegespan is met ’n heining wat bestand is teen olifante, is daar vermoed dat ’n groep van drie olifantkoeie en ses kalfies van verskillende ouderdomme deur die hek van die heining gebreek en op die veldgidse afgestorm het.

Hooper is in die voorval deur een van die olifantkoeie vertrap, terwyl die ander veldgids daarin kon slaag om ongedeerd van die voorval af te kom.

Hooper vertel dat Sheldon baie geliefd was onder sy vriende, kollegas en internasionale toeriste. Hy het ook ’n besonderse liefde vir en kennis van die natuur gehad.

’n Goeie vriend en spoorsnyer het Sheldon “Mandhevhu” gedoop. Die vriend het egter met dié bynaam na Sheldon as “Die man met die lang maanhare” verwys.

“Hy het altyd sy hare en baard geskeer as hy by ’n nuwe plek begin werk het om netjies te lyk vir die nuwe werk. Hy sou dit daarna weer laat groei,” vertel Hooper.

Dís hoe mense sy seun geken het en dít is die verwysing na sy “maanhare” wat ná die tragiese voorval op sy grafsteen aangebring is, vertel Gordon.

“Ons glo dat daar mense is wat meer inligting rakende die voorval het. Ons vra dat hulle na vore kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Plaaskind ·

Dit is baie hartseer, maar mense wat met wilde diere werk moet besef dat die natuur gevaarlike werksomstandighede inhou en dat sulke tragedies kan gebeur. Ek voel werklik jammer vir sy ouers, maar ek hoop ook van harte dat die olifantkoei nie nou ook van kant gemaak moet word nie.

Johan ·

Die berig gaan oor sy ouers wat die saak verder wil laat ondersoek omdat hulle nou meer vrae as antwoorde het. Nou maar wát is hierdie vrae? Maroela, kan julle nie vir ons meer lig daarop werp nie.

Misky ·

Ek stem Johan en selfde vraag gevra, maar my vraag verwyder……. Vermoed hulle dan vuilspel as Bolhuis aangestel is?

Hennie ·

Vra ek ook. Dink nie ‘n private ondersoek gaan keer dat nog iemand binne die volgende 10 jaar deur ‘n olifant gedood gaan word nie.

Anoniem ·

Tragiese voorval en sterkte aan die ouers. Wonder egter wat hulle bedoeling agter die onafhanklike ondersoek is?

Dries ·

Manie as dit jou KIND was ,sou jy hopenlik ook vrae gehad het om berusting en sekerheid te kry.

Anoniem ·

Definitief Dries, dit was ‘n ongeluk wat deur ‘n dier veroorsaak is, nie deur ‘n ander mens nie. Die feit dat Bolhuis hierby betrek is, laat dit klink asof vuilspel vermoed word, terwyl die berig dit duidelik stel dat hy deur ‘n olifant gedood is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.