Probleme met tenders veroorsaak agterstand met DNS-toetse

Tientalle jong kinders onder die ouderdom van vyf en tieners het in Oktober 2022 ter ere van die vierjarige Mia Botha gestap. (Foto: DJ Muller)

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se forensiese laboratorium het ses weke gelede tot ʼn stilstand gekom weens herhaaldelike vertragings in onderhandelings oor tenders. Dié vertraging beteken dat die nodige voorraad wat die laboratoriums benodig, nooit aangeskaf is nie.

“Die SAPD het in die verlede probeer om ʼn gebrek aan voorraad by verskaffers te blameer, maar ons het bevestig dat die verskaffers al die nodige voorraad beskikbaar het,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by die polisiewaghond Action Society.

“Meer as 80 moorde word elke dag in Suid-Afrika aangemeld, maar slegs 14,5% daarvan word opgelos. Een van die redes hoekom die skuldigbevindingskoers so skokkend laag is, is weens ʼn yslike agterstand in die prosessering van DNS.”

Sake word uitgestel en uitgestel hangende verdere ondersoek, en meeste sake wag op forensiese bewyse.

“Die verdagtes word gereeld vrygelaat op borgtog en dan gaan hulle bloot voor met hul plundertog. Die sterkste wapen in die stryd vir geregtigheid is onbetwisbare forensiese bewyse. Dit is onaanvaarbaar dat onderhandelings oor tenders geregtigheid vertraag.”

Liezel de Jager en klein Mia Botha, een van die talle sake waarby Action Society betrokke is, is voorbeelde van gevalle waar ʼn vertraging in forensiese prosessering in die pad van geregtigheid staan.

Liezel de Jager is 657 dae gelede vermoor. “Sy sou hierdie afgelope naweek haar 40ste verjaarsdag gevier het. Die DNS-bewyse wat van onder haar vingernaels versamel is, ʼn bewys van haar stoeiery met haar aanvaller, sal die saak oopbreek. Intussen is die persoon van belang op straat en is nou ook ʼn persoon van belang in ʼn hoëspoedmotorongeluk wat die lewens van twee vroue geëis het.”

Tamia (Mia) Botha is in September 2022 dood aangetref. Sy het laatmiddag op die 27ste verdwyn. Sy is die volgende dag gevind. “Haar ma kon nie na haar liggaampie kyk nie. Sy het net haar klein beentjies en haar donkerblou stewels gesien. Tot dusver is die DNS-uitslae nog nie verskaf nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Di ·

“Tenders” het ‘n vloekwoord geword in SA. Vandat BEE en tenders in werking gestel is, seevier korrupsie en totale verval van alles in die land! Dit is die grootste euwel in hierdie land

Martie ·

Die polisie is nikswerd. Wag al amper twee jaar vir my seun wat oorlede is om van polisie te hoor. Niks.

Truman Burbank ·

In die slegte ou dae, was tenders nie nodig. Want sulke funksies was deur staatsdiens self hanteer.

Papsak ·

Polisie kan niks doen nie hulle wil niks doen nie in SA is alles agter die tyd want hulle lyk altyd vir niks lus nie in polisiekantore maar hulle kry die werke

mynie ·

15 maande gelede is ons tiener dogter vermoor. Polisie praat nie met ons nie. Al wat ons hoor as ons agter hulle aan bel, is ons wag nog vir DNS uitslae. Hulle is agter met verwerking. Askies, vinger afdrukke lewer ook niks op nie. So moordernaar loop vry rond in Benoni.

Oosieoos ·

Dit word doelbewus gedoen om kriminele te beskerm en ons weet hoekom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.