Prof. Scholes se bydrae ‘onmeetbaar’

Prof. Bob Scholes is Woensdag dood. (Foto: IPBES/Twitter)

Die minister van omgewingsake, bosbou en visserye het die werk van prof. Bob Scholes, een van die wêreld se voorste wetenskaplikes oor klimaatsverandering, vir sy ongelooflike bydrae geloof.

Scholes is Woensdag ná ʼn staptog in Namibië dood.

“Die bydrae wat prof. Scholes tot die werk van die departement in die veld van klimaatsverandering en biodiversiteit gelewer het, was onmeetbaar. Sy ontydige dood is ʼn skok vir ons almal,” het min. Barbara Creecy in ʼn verklaring gesê.

Scholes, ʼn bekroonde wetenskaplike en wêreldleier op die gebied van klimaatsverandering, het onder andere die departement se Stand van die Omgewing-verslae gelei en was ʼn gereelde leier op die gebied van beleidsontwikkeling oor die land se gebruik van natuurlike hulpbronne.

Hy was ook ʼn kampvegter vir groen energie en ʼn verbetering in die doeltreffendheid van koolstofgebaseerde energie as ʼn manier om die land se koolstofvoetspoor te verklein.

Benewens dié van die minister, het tientalle ander huldeblyke ná Scholes se dood ingestroom.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het ook sy skok en hartseer oor die skielike groot verlies te kenne gegee en Scholes beskryf as ʼn reus in die veld van klimaatwetenskap – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd.

“Dit is ʼn hartseer, hartseer dag vir Wits. Bob is onvervangbaar,” lui ʼn verklaring van die universiteit.

Scholes was ʼn professor in stelselekologie by Wits en het ook gedien as die direkteur van die Global Change Initiative. Volgens die universiteit was hy onder die top 1% van omgewingswetenskaplikes wêreldwyd.

“Prof. Scholes was ʼn ware leier, ʼn nougesette en toegewyde wetenskaplike en ʼn leermeester vir almal.”

Scholes word oorleef deur sy vrou, prof. Mary Scholes, en seun, Stirling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

LANA is ELANè ·

Dit is baie hartseer, ons verloor soveel kundigheid agv regeringbeleid, maar by die afsterwe van so formidabele persoon is die wêreld armer agv sy voortydige afsterwe rakende sy kundigheid.
RIV prof Scholes, innige simpatie aan u geliefdes.

Dirk Mostert ·

Prof. Scholes was telkens in die media aangehaal oor (mensgemaakte) klimaatsverandering, wat strydig is met die wette van Fisika en Chemie, asook Geologie en die opgetekende Geskiedenis. Die teorie van aardverwarming, wat geriefshalwe verander is na klimaatsverandering, is opgestel sonder kennis van bogenoemde vakgebiede. Skaars 200 jaar gelede was ons nog in die Klein Ystyd. Daarna was daar ‘n normale sikliese verwarming terug na normale toestande. Dis net toevallig dat atmosferiese CO2 toe ook gestyg het. Die afkoel-periode van 1938-1977 val saam met stygende CO2, daar is dus geen korrelasie tussen CO2 en temperature nie. Enigiemand wat die vals teorie van kweekhuisgasse en aardverwarming propageer is myns insiens ‘n pseudowetenskaplike.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.