Proteas weer Aussies se krieketmeesters

Kagiso Rabada het drie paaltjies in Australië se beurt geneem. (Foto: Sajjad Hussain/AFP)

Die Proteas het nóg ʼn eendagkrieketwedstryd teen Australië gewen. Dié keer het hulle ʼn Wêreldbeker-ontmoeting met 134 lopies in Lucknow beklink.

Quinton de Kock het sy tweede honderdtal op ʼn streep aangeteken toe hy 109 lopies van 106 aflewerings gemoker het.

Sy beurt het 13 grenshoue ingesluit en hy het sy mylpaal met ʼn ses van Pat Cummins se boulwerk bereik.

Hoewel die Proteas teen die einde van hul kolfbeurt stoom verloor het – Mitchell Starc het byvoorbeeld twee paaltjies in die laaste boulbeurt geneem – kon hulle steeds meer as 300 lopies in hul toegelate 50 boulbeurte slaan.

Daarna het Kagiso Rabada met ʼn paar pragaflewerings vorendag gekom om van Steven Smtih en Josh Inglis ontslae te raak, terwyl Lungi Ngidi die belangrike paaltjie van David Warner geneem het.

Keshav Maharaj het ook die Aussies onder druk met sy akkurate boulwerk geplaas: Hy het slegs 30 lopies in sy tien boulbeurte afgestaan en hy het twee paaltjies ingeoes.

“Dit was ʼn baie goeie oorwinning; die manne het die toestande goed ontleed en daarby aangepas. Ek dink ons het meer as genoeg lopies aangeteken – ek weet uit ondervinding dat dit moeiliker word om saans in Lucknow te kolf,” het De Kock gesê nadat hy sy speler van die wedstryd-toekenning in ontvangs geneem het.

Hy het egter gewaarsku dat daar nog baie water in die see moet loop voordat die Proteas aan uitspeelwedstryde kan dink.

“Ons is trots op ons vertoning, maar ons het nog net twee wedstryde gespeel en enigiets kan nog gebeur. Dit is belangrik om op een wedstryd op ʼn slag te konsentreer.”

Suid-Afrika speel Dinsdag teen die Nederland.

  • Opsomming van die telkaart:

Suid-Afrika 311/7 in 50 boulbeurte: Quinton de Kock 109, Aiden Markram 56 en Glenn Maxwell 2/34.

Australië 177/10 in 40,5 boulbeurte: Marnus Labuschagne 46, Kagiso Rabada 3/33 en Keshav Maharaj 2/30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elmarie ·

Ek stem! Of dit rugby of krieket of verspoeg of boomklim is, solank ons wen teen die groot monde!

Jaco ·

Dit as altyd lekker om te wen, maar die bekommer my dat krieket en rugby lyk of hulle teen die einde van ‘n beurt/wedstryd konsentrasie begin verloor.

Dit het al en gaan in die toekoms vir ons wedstryde kos

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.