Pta-sakeman dood in Vaalrand aangetref

(Foto: Riaan van Lingen/Facebook)

Die polisie ondersoek ʼn saak van moord, ontvoering en kaping nadat ʼn gesiene sakeman van Pretoria-Oos Dinsdag dood in die Vaalrand-omgewing in Gauteng aangetref is.

Die 64-jarige Riaan van Lingen is Maandagaand as vermis aangemeld nadat hy die oggend sy huis in die Wingate Park-gholflandgoed vir ʼn vergadering in Olifantsfontein verlaat en nooit weer teruggekeer het nie.

Van Lingen se familie het die dag van sy verdwyning omstreeks 13:50 laas met hom gepraat. Hy sou na verwagting om 17:00 tuis wees.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi, woordvoerder van die polisie, sê die opsporingstelsel in sy wit dubbelkajuit Ford Ranger was ontkoppel en familielede kon hom nie in die hande kry nie, waarna hulle hom as vermis aangemeld het. ʼn Groot bedrag geld is glo ook uit sy rekening onttrek.

ʼn Soektog is onmiddellik van stapel gestuur. Verskeie private veiligheidsmaatskappye het gehelp om na die vermiste sakeman te soek. Sy liggaam is later met veelvuldige skietwonde aangetref.

Nevhuhulwi sê intelligensie-gedrewe inligting het die polisie dieselfde dag nog na ʼn verdagte gelei, waarna hulle hom in hegtenis geneem het.

“Dié verdagte het die polisie na ʼn tweede verdagte in Tembisa gelei, waar ʼn vuurwapen met ammunisie, polisie-weerkaatsbaadjies en ʼn pet gevind is.

“Die vuurwapen wat gevind is, moet aan ballistiese toetse onderwerp word om te bevestig of dit in die misdaad of enige ander ernstige misdade gebruik is,” sê Nevhuhulwi

Albei verdagtes sal na verwagting binnekort voor die Vereeniging-landdroshof op aanklagte van moord, ontvoering en kaping verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

hpven ·

Ramaphosa, Pandor beroep julle op die Internasionale Hof vir ‘n vredesmag om Suid Afrika onder beheer te bring! Die beheer wat die ANC deur kader aanstellings en korrupsie verloor het!

ekweetniks ·

ons moet in vrot opgeroeste karre begin ry, dan beweeg ons dalk onder die radar.
my innige meegevoel vir die familie wat agterbly

ES ·

Polisie regalia – nou vra ek jou, wie kan ons vertrou?? Want jy dink dalk dis polisie wat jou aftrek en dan word jy vermoor. En as jy nie stop nie word jy aangerand en viktimiseer.

Viva Suid Afrika!

Skappie ·

Mag onse Liewe Jesus almal wat hom geken het, deur hierdie moeilike tyd dra wat nou vir hulle voorle.

Fubar ·

“Nevhuhulwi sê intelligensie-gedrewe inligting het die polisie …”

Moet asseblief NOOIT “intelligensie” en “polisie” in dieselfde sin gebruik nie.

“Korrupsie, omkoopgeld, onbevoegdheid, laksheid,” ens kan vrylik saam met “polisie” gebruik word.

Delia ·

Fubar, regtig..almal is nie dieselfde. Gee bietjie krediet waar dit mense toekom. 2 moordenaars dieselfde dag gevang. En dan is die vermoorde wit. Ons is so vinnig om te sê SAPS stuur hulle nie daaraan as witmense vermoor word nie. Dankie SAPD. So jammer vir sy familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.