Drie kinders van ʼn skool in die noorde van Pretoria is Donderdag dood nadat hulle dieselfde koek en vrugtesap tydens pouse by die skool geëet en gedrink het.
Phumla Sekhonyane, ʼn woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het Vrydag gesê die kinders is almal van Laerskool Emma in Winterveldt. “Twee sussies, ses en agt jaar oud, het die koek en vrugtesap van hul huis af gebring,” het Sekhonyane gesê. “Hulle het dit met ʼn agtjarige maatjie gedeel.”
Die meisies het ná pouse van koors en maagpyn begin kla. Hulle is na ʼn hospitaal geneem en is met hul aankoms dood verklaar.
Die skool bedryf ʼn voedingskema, maar volgens Sekhonyane het die leerlinge wat van die skool se kos geëet het, geen simptome getoon nie.
Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die departement doen ook ʼn onafhanklike ondersoek.
Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR van onderwys, gaan Vrydag die skool en oorledenes se familie besoek. ʼn Span beraders van die departement gaan ook na die skool gestuur word om leerlinge, onderwysers, vriende en familie van die oorledenes by te staan.
Dit klink vir my baie verdag. Ek wonder of iemand by die sussies se huis nie iets in die koek en of koeldrank gegooi het nie?
Carla ek stem saam met jou iemand wat ontslae wil raakvan di kinders
Goeiste dis vreeslik erg!!!!!! Sterkte aan almal betrokke!!!!
Ek stem saam. Klink soos iemand wat hulle vergiftig het?? Ai die arme onskuldige kinders. :(