Pyn ondraaglik, maar ou Leon maak steeds grappies

Leon Schuster op herstelpad na operasie

Leon Schuster is ontslaan. (Foto: Leon Schuster/Facebook)

Leon Schuster lewe met ondraaglike pyn en moet ná twee vorige rugoperasies opnuut chirurgie ondergaan om skroewe wat in die vorige prosedures ingeplant is, weer vas te draai.

Voor dit egter kan gebeur, moet hy op aanbeveling van sy dokter eers tussen 10 en 15 kg gewig verloor.

Dit is vir hierdie bekende grapjas en poetsbakker geen grap nie, maar dit is in hierdie stadium sy eerste prioriteit.

Ondraaglike pyn ten spyt het Schuster steeds tyd vir ʼn grappie waar hy in sy bed in sy huis in Boskruin in Randburg lê. “Dit gaan goed onder die omstandighede, maar die omstandighede is nie goed nie.”

Schuster het al jare lank probleme met sy rug en in Augustus het hy met die verfilming van Mr. Bones 3: Son of Bones, boonop van ʼn bakkie afgeval. Terwyl hy van die eerste operasie herstel het, het hy een nag opgestaan en weer geval.

Ná sy besoek aan die hospitaal tel Schuster egter sy seëninge. Hy weet hy is veel beter daaraan toe as talle ander pasiënte met wie hy die saal gedeel het.

“Wat ek in daai sale gesien het terwyl ek met my bene in die lug gelê het, was honderd maal erger. Dit het my net laat besef ek is nog oukei danksy die Here se genade. Ek het ouens daar gesien wie se bene afgesit is.”

Sy rugoperasies is deur twee verskillende chirurge uitgevoer.

Toe hy by ʼn derde, hoog aangeskrewe chirurg aanklop, het dié volgens Schuster gesê daar “is baie goed verkeerd”.

Om hierdie probleme te herstel, gaan hy deur ʼn snytjie in sy maag werk. “Hy stoot die ingewande weg en werk van daar af,” verduidelik Schuster.

“Ek was my lewe lank 95 kg en nou weeg ek 105 kg. Ek moet eers dié gewig verloor, want die dokter het verduidelik sou hy nou opereer kan die ingewande drukking veroorsaak wanneer hy dit weer terugplaas.”

Daar was nóg slegte nuus: Die operasie kan net die helfte van Schuster se pyn verlig. Met die res sal hy moet saamleef. Dit is vir hom ʼn moeilike ding om mee vrede te maak.

“Ek hou nie van pynpille nie. Ek drink dit net in uiterste nood. Ek word in die nag wakker met soveel pyn dat ek nie kan draai nie.”

Die eerste operasie was tydens verlede jaar se opname van “Die Bokmasjien” vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

“Die liedjie was ʼn baie goeie booster vir my moraal daardie tyd. Ek het in daardie tyd baie daarna geluister en dit was vir my uplifting.”

Hy kan nie tans baie kreatief wees nie, omdat hy net lê en die pynpille hom moeg maak.

Schuster het intussen wel ʼn TV-reeks van sewe episodes aan M-Net voorgelê waarvoor hy die groen lig gekry het. Hy sal eers oor sowat twee maande daaraan begin werk.

Op die oomblik kan hy ʼn maksimum van 45 minute op ʼn slag sit voordat hy eers moet opstaan en ʼn draai loop. Hy probeer elke dag minstens 100 treë gee.

“Om te lê is die beste, maar ek is nie iemand wat aanhoudend kan lê nie.”

Die beproewinge waardeur hy die afgelope maande geworstel het, het duidelik geen uitwerking op sy vlymskerp humorsin gehad nie.

Voor hy groet skerts hy eers weer: “In die bedryf is ek ʼn regisseur en in my private hoedanigheid is ek ʼn rug-is-seer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Althes ·

Sterkte Leon dit is nie maklike pad nie en ons bid vir jou

MC ·

Sterkte Leon, ek moes gaan vir ‘n 2de rug operasie en het toe die regte dagga olie probeer. Tot nou toe weet ek nie wat presies dit doen nie, maar ek het nog nooit weer rug pyn gehad nie.

JohanR ·

My Oom moes ook op laat ouderdom skroewe in sy rug laat insit, en tot op sy laaste asem was hy in pyn. My beste was die beef patti wat onder die armpit in is vir bietjie meer sout!

Danie ·

Sterkte Leon ons hoop jy word sommer baie beter.Ja dis n feit gewig speel n groot rol kom nou ou grapjas jy kan mos.

Hendrik ·

‘n Rug operasie is soos ‘n RSA verkiesing. Die pyn is altyd nog daar na die tyd.

Nettie ·

Sjoe, dit klink darem maar nie lekker nie. Hoe verloor mens gewig as jy nie kan beweeg nie? Sterkte!

africangrey ·

Hi Leon,
Spoedige herstel en hoop die pyn is sommer gou baie minder.

SjN ·

Sterkte Leon, nasorg is seker die belangrikste, hoop die pyn verdwyn gou.

Lettie ·

Sterkte Leon. Ek self rugprobleem vir baie jare. Twyfel of ek operasie sal oorweeg. Pyn bly pyn vóór of ná operasie. Voor dit was daar net nie skroewe wat losgedraai het nie. So dink em maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.