R145 miljoen-toelaag vir nuwe poste in Pretoria

(Argieffoto: Tshwane-metro)

Die stadsraad van Pretoria het ʼn toelaag van meer as R145 miljoen van die nasionale tesourie ontvang om nuwe werksgeleenthede te skep.

“Die PEP-indiensnemingsprogram van Tshwane, wat deel vorm van die president se indiensnemingstimulus-pakket, is ingenome met die feit dat daar noodsaaklike werksgeleenthede oor ʼn periode van ses maande in die 2023/24- finansiële jaar aangebied sal kan word,” sê Hannes Coetzee, burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en ruimtelike beplanning. Die totale begrotingstoewysing beloop R145 513 000 van die nasionale tesourie.

Die program het sedert sy instelling reeds 15 256 werksgeleenthede moontlik gemaak tydens die 2021/22- en 2022/23- finansiële jare, onderskeidelik. “Fase 3 van die program sal na verwagting meer as 7 000 werksgeleenthede moontlik maak wat hoofsaaklik die jeug, vroue en mense met gestremdehede sal teiken reg oor al sewe streke van Tshwane. Werwing sal deur middel van ʼn lotery-keuringstelsel plaasvind.”

Die poste strek van vaardige werk tot handearbeid, afhangende van die tipe projekte en bestaande vaardighede binne die plaaslike gemeenskappe. Die projekte waaraan die persone sal deelneem, sluit in opruimingswerk in die middestad; instandhouding van formele en informele handelsfasiliteite; opruimingswerk en geïntegreerde afvalbestuur; kunstenaarsontwikkeling; inkomsteverbetering; en rekordhouding.

“Hierdie werksgeleenthede sal deelnemers in staat stel om hul vaardighede te ontwikkel deur die stad se omvattende verskeidenheid van goedgekeurde of nie-geakkrediteerde opleidingsprogramme. Hulle sal ook werkservaring opdoen.”

Coetzee sê die 2023/24-PEP se goedgekeurde sakeplan stem ooreen met die veelparty-koalisie se strategie en prioriteite om basiese dienste te verbeter soos om slaggate te herstel, straatligte in stand te hou, gras te sny en openbare ruimtes op te ruim. “Die stadsraad bly vasberade om ʼn omvangryke impak te maak om die lewens en lewensgehalte van inwoners in Tshwane te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

annie ·

Ons dog dan daar was reeds werkers aangestel in daardie poste. Wat gaan hulle nou doen om hul salarisse te verdien? Twee werkers dus vir een pos pos. Is dit hoe ons werkloosheid (eerder geldmorsery gaan verhoog) gaan inperk?

Sean ·

Kunstenaar ontwikkeling???? Soos motswaneng se R 50 000 vir elke knaap wat dink hy kan sing????

Lyon ·

Wat n grap – en die hordes wat jare lank betaal word om dit te doen, gaan net voort en doen niks, betaal die sleg werkers af, more le dubbel soveel heeldag in die koelte,

Danie ·

Nou verstaan ek glad nie.Die watersuiwering projek,opgradering by pta was daar nie fondse.Nou wat van die geld.?

Veronika ·

Hmmmm……raak mos verkiesingstyd, moet stemme opbou! Al is dit met storetjies por wat gáán gebeur…….

muffin ·

om eerlik te seg dat die mense dra oranje overall pak is regtig useless. dit is provinsionale werkers en hulle doen niks in die snelweg om skoonmaak proses nie. al wat hulle doen bly in dorp en gaan shopping en gaan kuier vriendinne huis en sit hele dag daar tot 3 pm dan waai hulle huistoe vir volgende dag doen weer dieselfde storie. al kry hulle salaris. dit is regte swakpunt van die regering om so aanstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.