R2 000-boete ná man hond slaan, aan brand steek

WAARSKUWING: Hierdie berig bevat grafiese inhoud wat sommige lesers kan ontstel en nie geskik is vir kinders nie.

Oscar, die Amerikaanse veghond wat met die panga geslaan is. (Foto: Bloemfontein SPCA)

’n 39-jarige man wat ’n Amerikaanse veghond (pit bull terrier) wreedaardig met ’n panga aangeval en toe aan die brand gesteek het, is met R2 000 beboet.

West Scheepers is Maandag in die Bloemfontein-landdroshof in die Vrystaat aan dieremishandeling skuldig bevind en ’n boete of ses maande tronkstraf opgelê.

Hy is op 5 Mei vanjaar in hegtenis geneem nadat hy die hond genaamd Oscar herhaaldelik met ’n panga geslaan het. Scheepers het ook paraffien oor Oscar uitgegooi en die hond aan die brand gesteek.

Oscar het die aanval oorleef, maar moes kort daarna weens die omvang van sy beserings van kant gemaak word.

Volgens Duan Matthee, ’n inspekteur by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein, het Oscar en sy eienaar glo verby ’n skool in Heidedal gestap toe die voorval plaasgevind het. Oscar was aan ’n leiband.

Matthee sê ’n verbyganger het Oscar reeds na ’n veearts geneem toe die DBV op die toneel aangekom het. Scheepers was in daardie stadium steeds daar en is oor die voorval uitgevra.

“Die beskuldigde het gesê hy het nie daarvan gehou dat die eienaar sy pit bull in die openbaar rondparadeer nie. Hy het ook gesê dat geen hond onskuldig is nie en soos in die hel moet brand.”

Scheepers het glo ook na die hond as ’n monster verwys en gesê indien ’n hond daar in die straat rondloop, sal hy doodgemaak word.

“Ons weet egter wie die werklike monster is wat dié misdaad gepleeg het.”

Volgens Matthee het Oscar diep snywonde opgedoen. Die hond se rug en bekken was erg beskadig en hy het baie bloed verloor. Oscar het ook brandwonde aan die linkerkant van sy lyf opgedoen.

“Toe ek die pit bull by die veearts sien, het my hart gehuil. Dit het my gebreek om die pyn op daardie onskuldige hond se gesig te sien.”

Matthee sê Scheepers het geen berou vir sy daad getoon nie en tot in die hof in sy eie onskuld geglo.

Volgens Matthee meen Scheepers ook dat geen hond ’n mensnaam moet hê nie aangesien dit ’n belediging vir die mensdom is.

Scheepers het die hof vir ’n ligter vonnis van 25 uur gemeenskapsdiens by die DBV gevra, wat deur die organisasie teengestaan is.

“Niemand wat aan dieremishandeling skuldig bevind is, mag gemeenskapsdiens by die DBV doen nie.”

Matthee het die hof se uitspraak verwelkom.

“Ons sal Scheepers dophou om seker te maak dat hy nooit weer só ’n misdaad pleeg nie.

“Ons glo Oscar speel bal in die hemel en is nou van enige pyn verlos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jean ·

Hoekom kry mense ‘n keuse, tronk of boete… So di ryk kan wegkom met als.
En net R2000-00 boete, klink eerder soos ‘n grappie

JohanR ·

R2000 boete! Ek is soe lief vir ‘n hond of ‘n kat. Hulle gee en gee en gee aan jou, en al wat hulle vra is liefde, lekker bak kos, water, bietjie haardloop en speel, en daai lekker warm bed waar hulle kan snork en baie winde waai. Nou ‘n dan ry brak saam daar op die agter sitplek, en sy kieste waai in die wind.

Elmarie ·

Die eienaar staan nie ‘n kans teen iemand wat gewapen is met ‘n panga nie

Gert ·

Ons sal mekaar kry daar in die straat as my hond aan ‘n halsband is en ek en my hond word deur so ou aangeval. Hy sal die verkeerdheid van sy wee in geen onsekere terme leer nie

Elinette ·

Jy sal dit nooit kry nie, want in dié land word demoniese dieremishandelaars en misdadigers soos Scheepers mos beskerm.

Pieter ·

Die land se regters is net so sleg soos die anc vir wie hulle werk.

Elmarie ·

Regtig? Is dit die beste wat die regter kom doen? Die mam het duidelik nie al sy varkies op hok nie. Hy moet vir sielkundige behandeling gestuur word en daarna tronk toe

VaalDonkie ·

Die hond se ore is geknip. Hy was in gevegte betrokke.

Toy ·

Gemors, sluit hom toe hy moenie net ‘n boete kry nie. Hy was wreed! My bloed kook nou.

haimish ·

Wat ‘n belaglike vonnis…ek dink ‘n paar diere het al hul lewens rondom hom verloor, hy is net gevang hierdie daad doen. Die vonnis regverdig nie die wrede daad nie. Voel baie teleurgesteld.

Misky ·

Matthee het die uitspraak verwellkom……. Groot fout met jou oordeel meneer

Skappie ·

As ‘n mens so iets aan ‘n hond kan doen, wat nog te se as hierdie ‘n ander mens moes wees. Nee, man, hierdie berig was glad nie lekker om te lees nie.

Onnie ·

Skreiende skande! Jy meet die opvoeding van n land aan die manier waarop hy sy diere behandel (beskerm) Volgens die R2000 boete is ons land diep in die rooi – asof ons dit nie geweet het nie…

christo ·

R2000 boete? Belaglik. In sekere gemeenskappe beteken dierewelsyn net mooi niks. Indien hy 6 maande tronkstraf sonder keuse van ‘n boete sou meer gepas gewees het.

Darts girl ·

Ek stem saam R2000 boete is n grap, so persoon moet betaal vir sy dade maar nie met geld nie hy moet tronk toe. Net soos daar mense in die tronk is wat teen verkragting en mishandeling van vrouens en kinders is, glo ek dat daar mense daar binne is wat teen dieremishandeling is.

Nico ·

Hoekom word ‘n onskuldige dier so mishandel word, en die beskuldigde kry net R2000 boete, waar was die eienaar gewees toe dit gebeur het, is die eienaar ‘ n nie ook skuldig aan die saam nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.