Ramaphosa en Biden vergader oor sekuriteit, bande met Rusland

Pres. Cyril Ramaphosa en VSA-pres. Joe Biden (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag ingestem om nou saam met die Amerikaanse president Joe Biden te werk oor gesondheid, sekuriteit en die klimaat, maar het die VSA gewaarsku oor strawwe vir Afrika-lande oor bande met Rusland.

Die Biden-administrasie het ʼn nuwe fokus op Afrika geplaas ná verbasing deur sommige lande se huiwerigheid om Rusland te veroordeel oor sy inval in Oekraïne wat reeds tot sanksies uit die Weste gelei het.

Ramaphosa is gulhartig deur Biden by die Withuis ontvang, weke ná Antony Blinken, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, onderneem het dat die VSA meer na Afrika sal luister.

“Ons moet regtig seker maak dat ons mekaar ten volle begryp,” het Biden gesê toe hy Ramaphosa in die Oval Office verwelkom het. “Ons vennootskap is noodsaaklik.”

Ramaphosa sê hy wil graag saamwerk oor sekuriteit, insluitend in Suid-Afrika se buurland Mosambiek, asook oor klimaatsverandering – ʼn sleutelprioriteit vir die Biden-administrasie.

Ramaphosa het sy dankbaarheid uitgespreek oor die VSA se “beduidende ondersteuning tydens die Covid-19-pandemie ná die Biden-administrasie meer as 1,1 miljard entstofdosisse wêreldwyd geskenk het.

“Hierdie besoek gaan oor die versterking van die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA,” het Ramaphosa gesê en bygevoeg Washington het ʼn “sleutelrol” wat betref sekuriteit in Afrika.

Hy het Biden egter gewaarsku oor ʼn stuk wetgewing wat deur die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers goedgekeur is. Dit vereis ʼn strategie om Moskou se rol in Afrika teen te staan. Ramaphosa sê Afrikane sal nie “gestraf” word vir hul geskiedkundige onverbonde posisie onder invloedryke magte nie. “Ek dink dit sal Afrika skade berokken en die vasteland marginaliseer,” het hy aan verslaggewers gesê ná sy vergaderings met Biden en adjunkpres. Kamala Harris. “Niemand moet vir ons sê met wie ons betrekkinge kan hê nie.”

Die wetgewing, Countering Malign Russian Activities in Africa Act, is nog nie deur die Senaat goedgekeur nie en Amerikaanse wetmakers benadruk dat die wet nie enige gevolge vir Afrika-lande uiteensit nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en VSA-pres. Joe Biden (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa en VSA-adjunkpres. Kamala Harris (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.