Ramaphosa: ‘Mthembu se strewe moet voortgesit word’

Foto: Kopano Tlape/GCIS

Minister Jackson Mthembu se strewe om die ANC te herbou en te hernu moet voortgesit word.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Sondag tydens Mthembu se amptelike staatsbegrafnis in Emalahleni (Witbank), Mpumalanga, gesê.

Mthembu, minister in die presidensie, is Donderdag aan Covid-19-verwante komplikasies dood.

“Wanneer ons vandag eer aan hom betoon, laat ons hom onthou vir wie hy was, ’n dienende leier wat die mense van hierdie land liefgehad het en hulle bo liefde vir sy party, sy leiers en homself gestel het.”

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Dit is egter nie genoeg om net Mthembu se lof te besing nie, het Ramaphosa gesê. “Ons moet voltooi wat hy in sy leeftyd nie kon nie: om sy geliefde beweging te hernu en op te bou, om die nasie se geloof in die regering te herstel en om ’n etiese staat te bou wat gelei word deur mans en vroue wat eerbaar en beginselvas is en oortuiging het.”

Mthembu het in verskeie strategiese en leiersrolle gedien. Hy was van 1995 tot 1997 die ANC se woordvoerder en weer van 2009 tot 2014. Mthembu het ook as ʼn LUR in Mpumalanga gedien.

Mthembu was volgens Ramaphosa ’n “vriendelike en sagmoedige siel” wat korrupsie, selfdienende leierskap en magsmisbruik verafsku het.

Mthembu se weduwee, Thembi. Foto: Kopano Tlape/GCIS

“Hy is nooit mislei deur die valse glimlagte en leë beloftes van diegene wat hulself wou verryk ten koste van die armes en die swakkes nie. Hy het hulle uitgewys en het nie omgee of hulle magtiger as hy was nie. Hy het sy lewe op die spel geplaas vir die bevryding van ons land en het moedeloos geraak wanneer ons gestruikel en ons weg verloor het.”

Mthembu was sedert 2007 ʼn lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee en het van 2016 tot 2019 as hoofsweep van die ANC in die Nasionale Vergadering gedien. Hy is ná die algemene verkiesing in 2019 as minister in die presidensie aangestel.

Foto: Kopano Tlape/GCIS

Sy dood is ’n enorme tragedie, het Ramaphosa gesê. “Veral in die tyd waar ons strewe om terug te beweeg na ’n pad van integriteit, onbaatsugtige diens en transformasie.”

Mthembu was een van die land se helde, een van die beste staatsamptenare en een van die grootste patriotte, volgens Ramaphosa.

“Hy laat ’n groot leemte in ons regering, in die beweging waaraan hy sy lewe gewy het en in die land waarvan hy so ’n trotse burger was.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elsabe ·

‘Strewe.. na terug beweeg..’ Julle sal moet skouer aan die wiel sit.

Eltan ·

Maar daar word geen woord gekraai oor of alle covide protocol gevolg was nie…sal seker oor n week of twee eers uitgelap word en dan ten sterkste ontken word…

Persheks Adri ·

Sjoe Cyril weet jy wat beteken die groot woord integriteit? Iets wat jy en jou kaders beslis nie sal verstaan nie

Frederik C ·

Comrade Ramaphosa is tans ‘n groter verleentheid vir die land as wat Zuma ooit was.

KB ·

Op hierdie stadium moet CR liefs stilbly oor sy politieke partytjie. Ons is moeg vir sy blindheid, sy narsisme, bedrog, diefstal, en die beskerming van sy eie mense ten koste van ander.
As CR in daardie kis was, sou dieselfde woorde nie oor hom wat Cyril is, gespreek gewees het nie. Kry hy nie skaam nie? Het hy geen integriteit in sy wese nie? Daar is elke dag ‘n groter ooreenkoms tussen hom en ‘n volstruis.

Yvonne ·

Ek is jammer vir sy geliefdes….maar daadwerklike resultate is nie altyd vir ons sigbaar in sy “stryd” vir n beter regering nie….dis jammer

donsie ·

hoekom is sy kis nie gewrap soos al die ander covid sterftes nie

Henk ·

“Hy het korrupsie verafsku” maar dit oorgesien asof dit normaal is. Hy was net so skelm soos die res wat oorbly. Drek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.