Ramaphosa se ‘invloed’ by SAUK bevraagteken

Moshoeshoe Monare (Foto: SABC News Western Cape/Facebook)

Die DA is baie besorg oor bewerings dat die SAUK se nuushoof, Moshoeshoe Monare, deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) geïntimideer word.

Natasha Mazzone, die DA se skaduminister oor kommunikasie en digitale tegnologieë, sê dit is veral kommerwekkend ná onlangse klanklêers wat uitgelek het waar pres. Cyril Ramaphosa onderneem om negatiewe publisiteit oor die ANC “uit te daag” en “met mag te konfronteer” in die aanloop tot die verkiesing volgende maand.

“Die DA verwerp enige intimidasie of dreigemente teen die media, wie se onafhanklikheid noodsaaklik is vir ʼn sterk demokrasie. Die jongste bewerings, van ʼn mediaveteraan soos mnr. Monare, wat al meer as twee jaar lank in sy amp is by die SAUK, spreek boekdele. Hy is gekeur toe hy die amp aanvaar het. Enige verdere keuring in hierdie stadium deur die SVA is baie onreëlmatig.”

Mazzone sê indien die SVA ʼn werklike saak gehad het om Morane te ondersoek, sou hulle behoorlike prosesse gevolg het en hom nie na bewering gekontak het om ʼn leuenverklikkertoets te eis nie.

“Misbruik van die SVA is egter ʼn bekende streek uit die ANC-spelboek. Hulle wou die intelligensieagentskap vir politieke motiewe gebruik het onder hul voormalige president, Jacob Zuma.”

Mazzone sê indien die ANC dit nog nie weet nie, is die SAUK nie ʼn staatsbeheerde entiteit nie. “As ʼn openbare uitsaaier, is die SAUK in besit van alle Suid-Afrikaners. Hulle het nie vrye teuels oor die SAUK soos wat hulle het met Eskom, Transnet en al die ander SBO’s wat hulle gebreek het nie. Die DA ondersteun ʼn vry pers en ʼn demokratiese samelewing. Ons bly waaksaam oor die ANC se toenemende outoritarisme. Dit is jammer dat Ramaphosa ontstel word oor slegte media – miskien moet hy besef dat dit sy mislukte regering en party is wat sleg is, nie die media nie.”

‘Geen inmenging deur die president nie’

Vincent Magwenya, woordvoerder vir die president, benadruk dat die SVA nie die name van individue bekendmaak wat gekeur word nie, en ook nie die presidensie nie.

“Weens die ernstige aard van die bewerings wat gemaak word en oproepe aan die presidensie, het ons egter ʼn verpligting om die feite van die saak te stel en alle onwaarhede oor die president se toewyding tot mediavryheid, soos vervat in ons Handves vir Menseregte, uit die weg ruim.”

Magwenya sê die SAUK het die SVA versoek om ʼn keuringsproses te volg vir Monare, soos wat die praktyk is met alle SAUK-hoofde.

“Mnr. Monare se voorganger, me. Phathiswa Magopeni, wat nou op die raad van direkteure van die SAUK dien, het ʼn soortgelyke keuringsproses ondergaan sonder enige haakplekke. Dit is dus nie waar dat Monare voor die verkiesing geteiken word nie.”

Magwenya sê die keuringsproses dek nie praktiserende verslaggewers of joernaliste by die SAUK nie. “Mnr. Monare is nie ʼn verslaggewer by die SAUK nie.”

Hy sê Monare het tydens sy aanstelling toestemming gegee dat die keuringsproses mag plaasvind en het ʼn vorm onderteken wat aan hom gegee is. “Hy het sommige, maar nie al die vereiste inligting nie, ingedien. Die proses is vertraag toe mnr. Monare nie ʼn leuenverklikkertoets wou ondergaan nie. Dit is deel van die keuringsproses.”

Monare se keuring is gevolglik nooit afgehandel nie soos aangevoer word nie, maar niemand het Monare onlangs geskakel om ʼn leuenverklikkertoets te voltooi soos wat beweer word nie, voeg Magwenya by.

“Mnr. Monare word nie vir ʼn tweede keer gekeur nie. Die proses wat in 2022 begin het toe hy by die SAUK aangesluit het, is nooit afgehandel nie, weens die leuenverklikkertoets wat nooit afgehandel is nie. Dit is egter net een element uit ʼn groter keuringsproses.”

Magwenya sê die presidensie verneem dat die nuwe groepshoof van die SAUK, Nomsa Chabeli, tans aan dieselfde keuringsproses onderwerp word. Die huidige raad van direkteure van die SAUK het ook dieselfde keuringsprosesse afgehandel.

“Pres. Ramaphosa en sy administrasie sal nooit enige dade van intimidasie of teistering van verslaggewers goedkeur nie. Hierdie tipe gedrag is teenstrydig met die Handves van Menseregte, soos vervat in ons Grondwet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jaco ·

Dit het mos maar in die ou SA ook gebeur. Broederbonders wat terselfdertyd 100% lojale lede van die regerende Nasionale Party was, was in beheer van die SAUK. So het Verwoerd, Vorster en PW Botha se “invloed” getel.
Diegene wat van my verskil moet net die Afrikaanse Wikipedia se artikel oor Gideon Roos gaan lees. Stoere uitstekende radioman wat in beheer van die SAUK was, maar hy was nie ‘n Broeder nie. Jaar na is sy pligte en verantwoordelikhede “van bo af” (eintlik van die NP regering af) verminder totdat hy maar bedank het. Sy opvolgers was almal Broederbonders.
Maar nou ja, wat het Salomo amper 3000 jaar gelede gesê: daar is niks nuut onder die son nie.

Bolandse Nooi ·

@Jaco … “so what”? Inderdaad het jy die wyse, wyse ou Salomo aangehaal wat gesê het dat daar niks nuuts onder die son is nie (maar, synde Salomo geleef het in die Bronstydperk, WAS [en is] daar nog BAIE nuwe goed). Daar is nie iets soos ‘n leliewit, suiwer, onkorrupte politikus en regering in die hele, wye wêreld nie. As jy dít dink en verwag, gaan jou lugborreltjie die een of ander tyd gebars word.

Theuns ·

Wanneer mens snert soos jaco se babs gebrabbel.oor broederbond lees besef jy:
Slapruggies in eie geledere is anc regime se beste implementeerders ! Pateties! 30% duidelik uit sulke waanbeeldw

christo ·

Dit is tog so opmerklik dat politici enige iets sal doen om hulle gemaklike leefstyl te behou. Wanneer die waarheid politici kan vernietig , moet dit hulle vernietig. Media moet vry en regverdig. Die SAUK is ‘n nasionale uitsaaier. Ongelukkig vir die ANC is daar soveel onafhanklike nuus platforms dat hulle kan probeer wat hulle wil, die waarheid sal seëvier.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.