Ramptoestand in Karoo ná week lange kragonderbreking

(Argieffoto: Ons KnK)

Die Karoo Hoogland- munisipaliteit het ʼn ramptoestand verklaar nadat week lange kragonderbrekings ernstige ontwrigting veroorsaak en feitlik die hele munisipale gebied lamgelê het.

Die plaaslike owerheid bedien die Frasersburg-, Sutherland- en Williston-distrikte. Verskeie ander dorpe – Sutherland, Roggeveld, Laingsburg, Ladismith, Leeu-Gamka, Swartberg, Merweville, Matjiesfontein, Prince Albert, Fraserburg en omliggende gebiede – sit ook sonder krag.

Die enorme onderbreking is veroorsaak toe verskeie hoofmaskragpale in die omgewing van Laingsburg Saterdag weens stormsterk wind en swaar reën omgewaai het.

Dit gaan geruime tyd neem om te herstel – vermoedelik eers teen volgende Donderdag.

Eskom het intussen spanne uit die Oos-Kaap ontbied om plaaslike Eskom-tegnici te help om die reuseonderbreking so gou moontlik te herstel. Dié spanne het reeds in die omgewing aangekom en werk sonder ophou om beskadigde infrastruktuur te herstel.

In hierdie stadium behels die werk die uitgrawe, aanmekaar sit en herstel van strukture, asook die verwydering van strukture wat ineengestort het, het Eskom gesê.

Onkant betrap

Riaan Geel, ʼn VF Plus-raadslid van die Karoo Hoogland- munisipaliteit, sê die sowat 20 000 km² is dalk van die mees yl bevolkte dele in die land, maar die ekonomie is net so afhanklik van elektrisiteit as enige ander deel van die land.

“Trouens, omdat dorpe so afgeleë is, kan ʼn krisis moeiliker die hoof gebied word,” sê Geel.

“Die ekonomie is grootliks kontantloos, met selfs maatskaplike toelae wat elektronies oorbetaal word. Betalings geskied deur kontant by kitsbanke te trek, of deur ʼn kaart te gebruik om by betaalpunte te betaal. Met ʼn langdurige kragonderbreking werk dit nie meer nie. Die situasie in Fraserburg raak haglik.

“Diegene wat wel ʼn kragopwekker het, het selde brandstof vir langer as een dag se verwagte beurtkrag. Slegs diegene met kontant kan dus hul ys- en vrieskaste aanhou. Watersuiwering (om te drink en vir riolering) staak en drinkwater kan nie na reservoirs gepomp word nie.”

Die plaaslike owerheid het Vrydag in ʼn kennisgewing op Facebook aan inwoners van Fraserburg en Sutherland gesê die “watersituasie is onder beheer” en water word gelewer met die hulp van kragopwekkers.

Geel sê egter selfs die munisipaliteit was swak voorbereid op die omvang van die krisis.

“Eers ná etlike dae is toepaslike toerusting en operateurs ingebring om water aan die gemeenskap te voorsien. Drinkwater is nou vir almal beskikbaar, hoewel dit steeds ʼn probleem is om waswater te kry.

“Bevrore produkte het eers ontvries, maar met temperature hoog in die 30’s kan dit ook nie vars bly nie. Ondernemings verkoop dit tans teen halfprys aan diegene met kontant, maar sommige inwoners is bang dat bederf reeds ingetree het.”

Geel sê selfs brandhout, wat nou die enigste beskikbare energiebron is, is reeds nie volop in die Karoo nie.

Rampverklaring ontsluit hulp

“Hierdie is ʼn ramp wat vererger is deur noodstelsels, -toerusting en algemene onderhoud wat nie daarvoor ingerig is nie. Soos altyd is die lyding wat arm mense beleef die ergste, omdat hulle min reserwes het.”

Daar was volgens hom tot dusver ook weinige ingryping van die provinsiale óf nasionale regering.

“Die Karoo Hoogland- munisipale raad het Vrydag vergader en Fraserburg en Sutherland tot rampgebiede verklaar. Dit is deur die Namakwadistrik en Noord-Kaap-provinsie bevestig.

“Hierdie verklaring ontsluit noodfondse van nasionale regering wat die situasie behoort te verlig. Tot dusver het die plaaslike munisipaliteit bykans ʼn miljoen rand daaraan bestee wat vir so ʼn klein munisipaliteit onbekostigbaar is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Duck ·

Dit is Eskom se transmissie lyne, wat verwag julle? Niemand is haastig nie, kry maar ‘n alternatiewe toevoer of opwekkers

RomeoTangoGolf ·

Dit is wat jy kry wanneer jy die “goed” in mense wil sien en die feite opsetlik ignoreer. Die regering moes nooit aan bewind kom nie,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.