Ras op voorgrond tydens debat oor plaasaanvalle

Pieter Groenewald tydens 'n vorige toespraak in die parlement. Foto: Twitter

Pieter Groenewald tydens ‘n vorige toespraak in die parlement. Foto: Twitter

Die grootste twispunt tydens die debat oor plaasmoorde in die Nasionale Vergadering Dinsdag was waarskynlik of daar ʼn politieke of rasse-motief agter plaasaanvalle en plaasmoorde skuil.

Baleka Mbete, speaker van die parlement, het aanvanklik die VF Plus se versoek vir ʼn parlementêre debat oor plaasmoorde afgekeur omdat sy gemeen het dit is nie ʼn dringende aangeleentheid nie, maar sy het verlede week haar besluit hieroor omgekeer.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, was Dinsdagmiddag eerste aan die woord. Hy het begin deur te beklemtoon statistiek toon dat dit “gevaarliker is om ʼn boer te wees as ʼn polisiebeampte”. Volgens Groenewald was daar sedert 1991 altesaam 2 393 moorde en 14 589 aanvalle op plase en kleinhoewes.

“Daar is ʼn persepsie dat net wittes op plase vermoor word. Dit is nie so nie. Navorsing wys sowat 40% van alle slagoffers van plaasaanvalle is swart,” het hy gesê.

Hy het ook beklemtoon plaasaanvalle kan nie as gewone misdaad beskou word wanneer daar gekyk word na die brutaliteit en geweld waarmee die aanvalle dikwels gepaard gaan nie. Groenewald het na verskeie voorbeelde verwys, waar mense op grusame wyse op plase vermoor en gemartel is, onder meer die vrou wat Vrydag tydens ʼn plaasaanval in Westonaria met ʼn boor gemartel is en Daniel Knight, wat in Oktober 2013 in Underberg, KwaZulu-Natal, met ʼn hamer doodgeslaan is.

“Dít is die skokkende prentjie en die ongerieflike waarheid van plaasmoorde wat ons nie langer kan ignoreer nie,” het hy gesê. Hy het daarna gevra vir ʼn oomblik van stilte vir die slagoffers van plaasmoorde.

ANC-LP Francois Beukman, wat na Groenewald aan die woord was, het saamgestem plase en kleinhoewes is ʼn weerlose teiken vir misdadigers, juis omdat hulle dikwels baie afgesonder is en dat plaasaanvalle soms met uitermatige geweld gepaardgaan.

Hy het egter beklemtoon daar is geen bewyse dat die brutaliteit van plaasaanvalle uniek of net van toepassing is op hierdie soort misdade nie. Volgens Beukman is plaasaanvalle nie ʼn nuwe verskynsel nie en het aanvalle op plase en kleinhoewes oor die afgelope paar jare stelselmatig verminder.

Beukman het gesê beter kommunikasie en vroeë waarskuwingstelsels in landelike gebiede moet ingestel word en ʼn veiligheidsplan moet vir elke plaas ontwikkel word. Hy het ook gesê landelike plaaswaggroepe moet ondersteuning van die plaaslike polisiestasies ontvang en die sakegemeenskap wat die landboubedryf dien moet ook by landelike veiligheid betrokke raak.

DA-LP Annette Steyn het op haar beurt gesê niemand kan ontken dat die grusame manier waarop sommige plaasaanvalle en plaasmoorde uitgevoer word “barbaars” is nie. “Hoe is dit moontlik dat selfs net een mens gemartel en soos ʼn dier geslag word en niemand sê ʼn woord nie? Hoekom is ons stil hieroor? Kan ons aanneem dit is omdat hierdie mense boere is?” het sy gevra.

Sy het genoem dit is nie net boere wat deur plaasaanvalle geraak word nie en plaaswerkers is ook die slagoffers van plaasaanvalle. “Hoekom weier die regering om beslissende stappe te doen om ons boere te beskerm? Ons sien net politieke retoriek, met ons president wat sing ‘bring my masjiengeweer’ terwyl mense vermoor word. Ons moet opstaan en alle moorde veroordeel.”

Volgens Steyn moet plaasaanvalle as ʼn prioriteitsmisdaad geklassifiseer word en meer hulpbronne moet vir landelike veiligheidseenhede beskikbaar gestel word. Sy het ook gesê misdaadintelligensie moet ondersoek instel of daar ʼn verbintenis is tussen plaasaanvalle en ander misdaad, omdat vuurwapens dikwels op plase gesteel word, wat in die uitvoering van ander misdade gebruik word. Sy het gesê die DA ondersteun die opleiding en ontplooiing van polisiereserviste in landelike gebiede en meen daar moet beter trauma-ondersteuning aan slagoffers en hul families gegee word.

Molapi Plouamma van Agang tydens die debat oor plaasaanvalle. Skermskoot: Parliament of the Republic of South Africa/YouTube

Molapi Plouamma van Agang tydens die debat oor plaasaanvalle. Skermskoot: Parliament of the Republic of South Africa/YouTube

EFF-LP Hlengiwe Hlophe het tydens haar spreekbeurt telkemale na die VF Plus gekap en gesê die party “het geen verklarings uitgereik” nadat Mark Scott-Crossley in 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir sy aandeel in die moord op een van sy werkers, Nelson Chisale, wat in ʼn hok met drie wit leeus gegooi is nie. Sy het ook gesê die VF Plus het “niks gesê” toe Ishmael Mathanene (55) verlede week in die kop geskiet is toe hy volgens Hlophe vir ʼn aap aangesien is nie.

Sy het verwys na die “haglike lewensomstandighede” van sommige plaaswerkers en gesê daar is gevalle waar plaaswerkers met alkohol betaal word. “Hierdie sake ontvang geen aandag van die VF Plus of AfriForum of ander regse organisasies nie,” het sy gesê.

“Ons moet nie om die bos gelei word nie. Gemiddeld nege mense word elke dag op die Kaapse Vlakte doodgemaak. Die VF Plus wil die moorde op ʼn paar witmense uitlig bo die res. Daar word dikwels aangeneem slegs wit boere word geteiken, maar dit is nie die geval nie. Dit is swart mense wat elke dag die geweld van armoede moet verduur.”

Molapi Plouamma van Agang het by Hlophe aangesluit deur te sê baie wit boere gee nie om oor die omstandighede waaronder hul werkers moet woon en werk nie. “Wit boere moet besef dinge het verander en hulle moet nou met swart mense deel, maar plaaswerkers word soos diere behandel. Hulle [boere] is sadisties en put plesier daaruit om ons mense te sien ly,” het hy gesê.

Plouamma het verder gesê die meeste boere vervloek die dag toe demokrasie in Suid-Afrika aangebreek het.

John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, het beswaar aangeteken teen Plouamma se stereotipering van wit boere en versoek dat hy die stelling terugtrek. Die waarnemende speaker het aangedui hy sal Plouamma se toespraak nagaan en later oor Steenhuisen se versoek beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

79 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jaco

En wat van hierdie hele berig is nou eintlik positiewe nuus vir ons boere? Absoluut boggerall

Ewoud

Ek wonder wat die punt van die hele debat was want ons almal weet daar gaan niks daarvan kom nie. Die raskaart word net oor-en-oor gespeel. Emosioneel uitmurgenend.

Frans du Toit

Sal graag wil sien of hierdie debatvoering in die kankerkamers van die parlement self net EEN plaasaanval gaan verhoed.. Volgens my het dit gegaan oor politiekery en vir die boer op sy plaas of man op straat ‘n nuttelose oefening..

skorra

Ek sou bitter graag die heer Groenewald se navorsingstatistiek dat 40% slagoffers van plaasaanvalle swart is, onder oe wou kry. Tensy die nagevolge van doodgewone dronk-bakleiery by die arbeidershuise ook as plaasaanvalle getel word, hou ek my ernstige bedenking voor totdat ek deur feite anders oortuig word. Nog ‘n vraag sou wees hoeveel van die betrokke, gerekende 40% aanvalle in brutale marteling en moord eindig…

AL

Die ANC en Agang en EFF sterotipeer en veralgemeen. Hoe absoluut belaglik!
Dit klink of hul net sekere gevalle wil onthou en die res gerieflik wil vergeet – selektiewe geheue!!
Daar is geen regverdiging vir die absolute wreedheid nie!
Op die Kaapse Vlakte skiet hul op mekaar – martel nie hul slagoffers met bore, blaasvlamme, strykysters ens nie.
Gaan VN toe, die wêreld sal geskok staan teenoor soveel barbaarse geweld!