Raskwotas vir watergebruik: ‘Minister tree buite magte op’

(Foto: TLU SA/Facebook)

Die minister van water en sanitasie is versoek om die beoogde veranderings aan waterwetgewing, wat soveel as 75% swart eienaarskap van ondernemings wat ʼn watergebruikslisensie benodig sal vereis, onmiddellik terug te trek.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die versoek aan minister Senzo Mchunu gerig en is van mening dat die verpligte voldoening aan raskwotas wat die konsepregulasies beoog nie net onregmatig is nie, maar dat die minister met die publikasie daarvan ook buite sy magte opgetree het.

Die hersiene konsepregulasies oor watergebruikslisensies wat op 19 Mei 2023 vir openbare deelname in die Staatskoerant gepubliseer is, sal vereis dat aansoeke om sekere watergebruike te lisensieer, voortaan slegs deur die departement van water en sanitasie oorweeg sal word indien die onderneming wat daarvoor aansoek doen vasgestelde raskwotas nakom.

“Die hoogste hof van appèl het bepaal dat regstellende aksie een van ʼn reeks faktore is wat tydens ʼn watergebruikslisensieaansoek oorweeg moet word. Indien regstellende aksie voorkeur gegee word bo ander oorwegings wat ook volgens die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) in ag geneem moet word, is dit strydig met die bepalings van die Waterwet. Dit is egter presies wat die hersiene konsepregulasies poog om te bereik. Dit lyk dus asof die minister nie net die wet wat aan hom sy magte verleen nie maar ook die appèlhof se uitspraak wil ignoreer,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir omgewingsake.

De Vaal sê verder die minister het volgens die Waterwet nie eens die bevoegdheid om regulasies oor die eienaarskap van ʼn onderneming wat aansoek doen om ʼn watergebruik te lisensieer, uit te vaardig nie. Deur die rol van die wetgewer aan te neem, ondermyn die minister die oppergesag van die reg en die skeiding van magte wat deur die Grondwet gewaarborg word.

Hoewel dr. Sean Phillips, direkteur-generaal van die departement, onlangs die storm wat rondom die konsepregulasies losgebars het probeer kalmeer het deur te beklemtoon dat die konsepregulasies slegs ten doel het om ʼn gesprek te stimuleer en die publiek se bekommernisse aan te hoor, is AfriForum egter van mening dat die konsepregulasies só ooglopend onregmatig is dat dit nie eens verder deur die wetgewende proses gevoer moet word nie.

Met geen redelike vooruitsig dat die parlement die konsepregulasies sal goedkeur nie behoort verdere tyd en uitgawes nie daarop verkwis te word nie. Daarom eis AfriForum dat die hersiene konsepregulasies onmiddellik teruggetrek moet word. Sou die minister nie gehoor gee aan die versoek nie, sal AfriForum steeds aan die openbaredeelnameproses deelneem en sy volledige kommentare voor die sluitingsdatum indien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Harley Davidson ·

Die ANC regime het die kuns vervolmaak om ‘n klip in die bos te gooi wanneer hulle die aandag van die media en mense wil aflei, en ek dink dit hierdie is so ‘n geval.

skurweberg ·

Harley, ek dink die ANC het dringend “mentors” nodig om hulle te help om op die spoor te bly.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Moet nie uit die oog verloor dat die Marxistiese ANC steeds ten volle verbind is tot hul openlik gepubliseerde beleid van hul National Democratic Revolution om ‘n kommunistiese bestel daar te stel. Hulle wil alle hefbome van mag sentraliseer. Ek glo hulle wil ook die privaatsektor kaap tot voordeel van hul magsbasis. “It is all about POWER and RESOURCES”.

Republikein in die Wes Kaap ·

100%. Hopelik sal die korporatiewe base wat so graag wil help dit ook besef.

Blikkies ·

Lyk my hulle lê en droom in die nag en as hulle opstaan skielik hierdie blink plan om hulle eie wette op te maak sonder om verder te dink. Regstellende aksie as ‘n verskoning is ook lankal nie meer van toepassing nie. Vir Dertig jaar is hulle gehelp en met die lepel gevoer, nie net deur ons nie maar die hele wereld en kan nog steeds niks vir hulle self doen nie. Waar val die ou uit. Toegang tot water is almal se grondwetlike Reg, ongeag. Besef die mense nie hulle onnosele idees mors geld nie.

Schalk ·

Die volgbasis van die ANC dink seker dit is briljant….die res van die intelligente ingeligte stemers weet dit is net feitlik onmoontlik om elke pampoen in ‘n koets te verander.

Stofdonkie ·

Een van die dae gaan daar nie eers meer pampoene wees nie, want boere gaan nie water hê om pampoene te kan plant nie

Hendrik ·

SUID Afria eerste stem. Die regering is daarop uit om die privaatsektor te vertrap. Hul is te kortsugtig in hul ideologiee vasgevang en besef geensins die langtermyn gevolge daarvan nie. Die werklikheid waarin hul vasgevang is is dat hul nie een enkele dag sonder die privaatsektor kan bestaan nie.

gatgogga ·

Kan die anc dan sommer ook nou al die ander ras-gebasseerde wette van die wetboek verwyder.
Ek gee nie om watter toegewings de Klerk met die anc agter die skerms aangegaan het nie – dis tyd dat ons ‘n meer regverdige ooreenkoms kry.

Hendrik ·

Ja laat ons tog n totaal nuwe begin maak. In hd 30 jaar het ons genoeg geleer en ons oe het oop gegaan. Die 92 onderhandelings gepaart met papsakkigheid, bedrog en valse voorgee van gematigheid het onmiskenbaar op n mislukte staat uitgeloop. n Nuwe onderhandelingsproses met wysheid reeds beko is aabsoluut noodsaaklik. Die anc is nie n nuwe party nie maar het ontaard in n genadelose vyand.

Johann ·

En so deel die ANC als uit wat hulle kan of NIE kan nie. Hou die massas in die regte kruisie trek ry met blatante haat en rassisme teen die blankes.

Elize ·

Hoe is dit nou dat mense in sekere posisies nie weet wat hulle magte is en wat nie. En iemand wat buite sy magte optree behoort gefire te word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.