Rasverslag-nadraai: Smith, Boucher onder die loep

Graeme Smith en Mark Boucher. Foto: Marty Melville/AFP.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het vanoggend in ’n verklaring gesê dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur sal word om Graeme Smith (sy direkteur van krieket) en Mark Boucher (Proteas-hoofafrigter) se optrede verder onder die vergrootglas te plaas.

Die twee Suid-Afrikaanse krieketlegendes is onder meer saam met AB de Villiers in advokaat Dumisa Ntsebeza se voorlopige verslag van 235 bladsye vir beweerde bevooroordeelde gedrag en diskriminasie uitgesonder.

Ntsebeza het in sy hoedanigheid as onafhanklike ombudsman aangevoer dat hy nie in ’n posisie is om definitiewe bevindings te maak nie en dat die saak verder gevoer moet word.

Volgens KSA sal die ondersoek vroeg in 2022 plaasvind en dat “onafhanklike regslui” aan die stuur van sake sal wees.

Met die belangrike reeks teen Indië om die draai, sal Smith en Boucher in hul poste aanbly.

Lawson Naidoo, KSA-raadsvoorsitter, het op sy beurt gesê dat die raad kennis van die ombudsman se bevindings neem en dat – waar nodig – die voorleggings en bewerings getoets moet word.

“Ons hoop dat dit die persone wat deur die verslag geïmpliseer word ’n regverdige geleentheid sal gee om hul kant van die saak te stel sodat daar op die finale bevindings reageer kan word,” het Naidoo gesê.

David Becker, Smith se prokureur, het op sy beurt aangevoer dat die oudkaptein se aanstelling as direkteur van krieket nie onreëlmatig was nie.

“Smith het hom nie self aangestel nie. Die bewyse toon duidelik dat sy aanstelling deur die keurpaneel onderskryf is en deur die hele KSA-raad goedgekeur is,” het Becker in ’n verklaring gesê.

Becker het in die geheel ook die verslag bevraagteken omdat daar geen definitiewe bevindings is nie – dit bevat immers baie ernstige bewerings.

“Hoe maak ’n mens byvoorbeeld verreikende bevindings van rassediskriminasie en sê in dieselfde asem dat dit slegs voorlopig van aard is? Hoe moet KSA dan die einste bevindings implementeer waar die ombudsman self erken dat niks definitief is omdat die getuienis nie getoets is nie?”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.