Reeksmoordenaar dreig glo slagoffer se ma

Argieffoto

Argieffoto

Die ma van ʼn vrou wat deur die 31-jarige Thapelo Matsehi vermoor is, het in die hof getuig dat Matsehi haar gedreig het dat hy “vir haar sal kom sodra hy vrygelaat is”.

Matsehi, ʼn voormalige werknemer van die Aquarius-platinummyn naby Rustenburg, is Dinsdag in die hooggeregshof, wat in Palm Ridge gesit het, gevonnis vir onder meer ʼn reeks verkragtings en moorde. Matsehi het tereggestaan op 11 aanklagte van verkragting, moord, ontvoering en poging tot verkragting en is in Junie skuldig bevind op tien van die aanklagte.

Phindi Louw, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê al Matsehi se slagoffers was mense wat aan hom bekend was, onder meer sy beste vriend se suster, ʼn buurman se kind en ʼn voormalige kollega.

Die staat het aangevoer Matsehi is ʼn reeksverkragter en -moordenaar wat geen berou vir sy dade getoon het nie. Adv. Steven Rubin vir die staat het gesê die kans dat Matsehi gerehabiliteer kan word, is baie skraal.

Die ma van een van Matsehi se slagoffers het tydens die verhoor getuig dat hy selfs nadat hy skuldig bevind is die familie gedreig het. Volgens die ma is sy steeds besig om die pyn van haar dogter se dood te verwerk en word die trauma vererger deur Matsehi wat dreig dat hy haar sal opsoek sodra hy vrygelaat word.

Die staat het die hof versoek om nie van die minimumvonnisse vir die verkragtings en moorde af te wyk nie weens die erns van die aanklagte en om die families van die slagoffers teen Matsehi te beskerm.

Matsehi is vier lewenslange vonnisse plus ʼn bykomende 45 jaar tronkstraf opgelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

James ·

132 JAAR trunk staf sal toe paslik wees , SONDER afslag of parool

Cherokee ·

Dit sal (waarskynlik) soos al die ander kere afgerond word met ‘gesamentlike uitdiening’.

Theresa ·

Sot wat nog ander dreig terwyl hy reeds verdoem is!! Vermetel en wreed. As dinge reg uitwerk, gaan hy werklik nêrens heen nie en is die samelewing van hom ontslae.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.