Reënerige Kersfees verwag

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Andrew Kim/Unsplash)

Suid-Afrikaners wat vanjaar Kersfees in die sentrale en oostelike dele van die land vier, kan lieflike somerreën op dié dag verwag. Dít terwyl warm tot baie warm temperature steeds in hierdie gebiede voorspel word.

Intussen word stormagtige weerstoestande Woensdag en Donderdag in sommige dele verwag.

Kumsa Masizana, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD), het Woensdag gesê geïsoleerde tot verspreide donderbuie het reeds oor die land begin beweeg en sal minstens tot die einde van die week voortduur.

“Dele van die Vrystaat en Gauteng sal na verwagting op Kersdag ʼn 30%-kans op reën hê, terwyl Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal asook gebiede langs die kus van die Oos-Kaap ʼn 60%-kans op reën het.”

Temperature in George, Oos-Londen en Durban sal ondanks die reën steeds warm wees met minimum temperature van onderskeidelik 16 °C, 17 °C en 19 °C en maksimum temperature van 22 °C, 23 °C en 24 °C.

Bloemfontein, Pretoria en Phalaborwa sal egter nie op Kersdag deur die reën afgekoel word nie en temperature van tussen 30 °C en 33 °C kan hiér verwag word.

Masizana sê die reënbuie sal grotendeels teen Sondag begin opklaar, waarna donderbuie vanaf die laatmiddag oor hierdie gebiede kan uitsak.

“Temperature oor die hele land sal voorts koel maar warm bly, met dele van die Laeveld wat veral warm temperature vir die res van die maand kan verwag.”

Weerwaarskuwing

Die weerdiens het intussen ʼn waarskuwing uitgereik van stormagtige weerstoestande in dele van die Noord-, Wes- en Oos-Kaap.

Volgens die weerdiens sal reën- en donderbuie Woensdag en Donderdag oor die suidelike dele van Noord-Kaap, die sentrale Karoo en gebiede langs die kus in die Oos-Kaap beweeg.

“Vinnige en swaar reënbuie kan oorstromings veroorsaak, met gebiede wat tot 40 mm reën kan kry,” sê die weerdiens.

“Groot hoeveelhede klein haelkorrels, skadelike winde en oormatige weerlig sal ook tydens hierdie buie plaasvind.”

Hierdie verwagte reënbuie volg kort op die hakke van die goeie somerreën wat dele van die land reeds in Desember gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.