Regering gewaarsku oor Russiese seiljag  

Alexei Mordasjof se luukse seiljag, Nord, in Hongkong se water (12 Oktober 2022) (Foto: Peter Parks/AFP)

Die amptelike opposisie het die regering gewaarsku dat hy hom sanksies op die hals kan haal indien hy toelaat dat ʼn superseiljag, wat verbind word met een van Rusland se rykste oligarge, sy gebiedswaters binnekom.

Nord, ʼn superseiljag van $500 miljoen wat met die Russiese miljardêr Alexei Mordasjof verbind word, is glo op pad na Suid-Afrika nadat dit verlede week uit Hongkong vertrek het waar dit vir drie weke geanker was.

Mordasjof is glo ʼn nabye vriend van pres. Wladimir Poetin en is een van die Russe teen wie die VSA, die Europese Unie en Brittanje sanskies ingestel het ná Moskou se inval in Oekraïne.

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, het dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, skriftelik versoek om in te gryp en seker te maak die seiljag word nie in die land toegelaat nie.

Die regering meen egter daar is “geen rede om te verhoed” dat die superseiljag ʼn hawe hier aandoen nie.

“Suid-Afrika het geen wetlike verpligting om te hou by sanksies wat deur die VSA en die EU opgelê is nie,” het Vincent Magwenya, pres. Cyril Ramaphosa se woordvoerder, gesê.

Alexei Mordasjof (Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons)

Verskeie lande het al vanjaar op Russiese oligarge se seiljagte en ander bates beslag gelê.

Hill-Lewis het gewaarsku oor die gevolge om die Russiese oligarg hier te verwelkom.

“Ons loop die risiko om op die internasionale gryslys te beland weens ons lakse benadering tot geldwassers en rampokkers, en nou kan ons ook diegene wat sanksies ontduik byvoeg.”

Suid-Afrika weier om kant te kies in die Oekraïne-oorlog en het al by verskeie geleenthede op die internasionale verhoog nagelaat om Rusland te veroordeel, in teenstelling met die oorgrote meerderheid van die wêreld wat Rusland skerp kritiseer.

Hill-Lewis meen Suid-Afrika het “ʼn morele plig om te doen wat hy kan om ʼn ongeregverdigde oorlog, staatsterreur en die growwe skending van menseregte teen te staan”.

Die superseiljag sal Suid-Afrika na verwagting op 8 of 9 November bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Windhond ·

Hoekom stuur Amerika en England nie James Bond en Rambo om die jag te onderskep nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Ek moet sê die nuwe Britse eerste minister lyk komkommerkoel soos ‘n 007. Dalk kan hy die job doen.

Vrijburger ·

LOL. Want die 2 is bloot fliek karakters. CIA maak gewoonlik ‘n gemors van hul koverte operasies.

Miskien ·

“geen rede om te verhoed”, maar tog het die regering Dalai Lama se visa menigmaal, weens Sjina, geweier.

Republikein in die Wes Kaap ·

DA, laat die Wes Kaap afstig dan kan julle doen wat julle wil.

ES ·

Soveel as wat ons wens dis moontlik sal die Wes Kaap nooit kan afstig nie. Dis ‘n pypdroom en die regering sal dit nie toelaat nie.

Harley Davidson ·

Die mense van die weskaap moet die besluit neem nie die piesang regering nie.

JohanR ·

Wel ons weet wie in die toekoms niks met SA te doen he! Suid Afrika – een van die muis honde van die wereld!

Republikein in die Wes Kaap ·

In die ou SA was ons ook die muishond. Hollywood het Afrikaners verhewe tot die baddies. Nou het die Russe die mantel oorgeneem en dit maak seer.

Treurwilger ·

Ontspan.
As die ANC-regering hom na amper 30 jaar nog nie op die “internasionale gryslys” bevind nie, sal hy nooit.
As daar per ongeluk só ‘n lys bestaan, word dit deur ‘n bitter klein deeltjie van die wêreldbevolking ondersteun.

Faraway ·

Daar staan geskrywe ” was jy maar koud of warm, maar noudat jy lou is sal EK jou uitspoeg”

Rolo ·

Hill-Lewis moet eerder stil bly…. Kry nie eers die Kaap reg nie, nou wil hy sy neus in wereld politiek indruk….

Samuel ·

Rolo, watter snert raak jy kwyt? Daar is nie ‘n stad in SA wat beter fungeer as Kaapstad nie en die provinsie is voor in die koor.

Republikein in die Wes Kaap ·

Vir nou Samuel, ‘n LUR sê gister dat Kaapstad teen 2030 voorsiening moet maak vir ‘n ekstra een miljoen mense. Dis ‘n Bloemfontein binne Kaapstad! Stellenbosch, Paarl, Mosselbaai, George, Overstrand en Theewaterkloof gaan ook kreun onder instromings. Die DA rus op hul louere. Maar nog steeds is hulle teen afstigting.

Mariana ·

Die regering steur hom min aan enige waarskuwings. Hoekom sal hulle nou luister. Hulle doen mos in elk geval wat hulle wil en onthou iemand gaan baat as daai “bootjie” hier vasmeer.

Swerwer ·

En so kom die Kommunistiese Regering se geraamtes een na die ander uit.

Jacobus ·

Hoekom sal die een skelm die ander wil uithou hulle is dan voëls van eenderse vere. Die ANC sal hom met ope arms verwelkom en met n bloulig konvooi begelei soos hulle met die Guptas, Al-Bashir gewese leier van Soedan, Muammar Gaddafe, Castro en al hulle bondgenote gemaak het. Die ANC vee hulle af aan wat die wereld se.

Jaco ·

Uiters vreemd dat die ANC so min of meer vir Rusland steun. Rusland wil basies die etnies-Russiese dele van die Oekraïne beset en beskerming teen sogenaamde slegte behandeling vanaf die Oekraïne.
Draai dié situasie nou om en pas dit op SA toe: ‘n ander land val SA aan om ‘n einde te maak aan die onderdrukking van wit mense en kleurlinge in die Wes-Kaap.
Die ANC is vol dubbele standaarde: blykbaar is Rusland se “beskerming” van Russe in die Oekraïne reg. Blykbaar is die skep van ‘n Palestynse staat reg. Blykbaar is die outonomie wat China aan Hong Kong en Macao gee ook reg. Net wit mense/nie-ANC-mense in die Wes-Kaap wat vra vir outonomie/selfregering is egter verkeerd, rassisties en “vol apartheid”.

whatever ·

HIerdie rampokker sal verwelkom word aan wal en dan nog saam die president gaan tee drink.

Marthinus W ·

Indien sanksies deur die VN ingestel word, is SA onderworpe daaraan. Die sanksies teen Rusland is nie deur die VN ingestel nie, maar deur Amerika en haar vasalstate. Dus, uit n regstegniese oogpunt, het ons geen verpligting om die jag nie in Kaapstad toe te laat nie. Indien ons onder die druk gaan buig en die jag toegang weier, beteken dit dat Joe Biden die leier van SA is? Gaan ons dit aanvaar? [Dit word nie in die hoofstroommedia genoem nie, maar die afgelope week was daar protesoptogte in n hele paar Afrikalande, juis oor Amerika wat hulle wil dwing wat om te doen.]

Chris ·

Ek lees die berig met gemengde gevoelens. Waaroor die Amerikaners, Britte of enige ander land nou sand oor die Rus en sy jag wil opskop, gaan my verstand te bove. Die aanstellerigheid van die twee lande moet ook op ‘n stadium einde kry. Kyk hoe het hulle ons in die verlede geboelie en voorgeskryf. Wat gaan hulle in elk geval doen? Ek glo aan die blinde sambok. Wat jy aan iemand doen het gewoonlik ‘n positiewe of negatiewe nadraai. Wat jy saai sal jy maai. Die Yanks en Britte moet eerder hul by hul eie belange bepaal. Ek sal nie lekker slaap as ek hulle is nie. Hul uitdagings is op hulle.

Danie ·

Leer die mense nou eenvoudig nooit nie.Ons het nou alles behalwe sanksies nodig.Wat soek die skurk hier beslis nie n vakansie nie.Of is hy genooi?

Estelle ·

Ag nee wat, as ons weer hoor, dan ‘wine & dine” ons regering saam op die seiljag.

Republikein in die Wes Kaap ·

Winde en die burgermeester sal saam party tot vroeg oggend.

DJ ·

Die DA moet eerder aandag gee aan sy sukkelende koalisies as wat hy probeer om ‘n mondstuk vir Amerika te wees. Die Weste is besig om sy einde te bereik. Die Ooste is die nuwe mag in die wêreld.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die opkoms van die Ooste is die realiteit.

Yvonne ·

Sal die regering n stofstorm herken as hulle dit sien….goeie boekies is al wat tel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.